fbpx
Vryheidsfront Plus

Omvang van Suid-Afrika se ekonomiese krisis maak president se ekonomiese herstelplan soveel meer teleurstellend

"Gegewe die omvang van Suid-Afrika se ekonomiese en fiskale krisis, was die ekonomiese herstelplan wat president Cyril Ramaphosa vanmiddag aangekondig het, soveel meer teleurstellend," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Alles wat die president aangekondig het, was bloot ‘n herhaling van vorige beloftes en planne. Daar is menige soortgelyke planne al in die verlede aangekondig, maar die implementering daarvan het nooit geskied nie.

"Die president en die ANC gaan voort om die verkeerde dinge te doen soos om te volhard met beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), onteiening sonder vergoeding en striemende arbeidswetgewing wat beleggers eerder verdryf as wat dit ekonomiese groei sal bewerkstellig en werk sal skep.

"Dit is duidelik die president is ‘n gevangene van die ANC se sosiaal-ekonomiese ideologie aan die een kant en Nedlac (die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad) aan die ander kant.

 

"Die VF Plus sou eerder wou hoor dat arbeidswetgewing verander om beleggers te lok, dat daar weggedoen word met gefaalde SEB en die dat daar spesiale ekonomiese sones of vryehandelsgebiede geskep sal word om die ekonomie te stimuleer en werk te skep."

 

"Daar moet ook groter belastingverligting kom vir sake-ondernemings en individue. Die enigste manier om die ekonomie oor die langtermyn te red is om belastings en tariewe te verlaag, besteebare inkomste te bewerkstellig en Suid-Afrika aanloklik vir beleggers te maak.

"Die verlenging van die maatskaplike toelae wat as verligting vir die Covid-19-inperkings daargestel is, is nie die oplossing om die ekonomie te herstel en armoede volhoubaar uit te wis nie.

"Selfs die 800 000 werkgeleenthede wat geskep gaan word, is niks anders nie as ‘n verlengstuk van die Covid-19-maatskaplike stimuluspakket aangesien die staat die poste kunsmatig skep en die salarisse betaal gaan word met belastinggeld wat daar nie is nie.

 

"Nie een van die nuwe werkgeleenthede wat president Ramaphosa voorsien, gaan geskep word weens spontane ekonomiese groei nie. Dit is bloot ‘n verdere uitbreiding van die reeds bestaande en onvolhoubare welsynstaat."

 

"Van die 800 000 werkgeleenthede is 60 000 om munisipale infrastruktuur te bou en in stand te hou en 300 000 aanvullende poste in skole soos onderwys-assistente en persone wat blote roetinetake moet verrig.

"Selfs hierdie aankondiging boesem geen vertroue in nie aangesien die staat nie veronderstel is om werk te skep nie. Die staat moet eerder 'n gunstige omgewing vir die privaat sektor skep om werksgeleenthede te kan realiseer.

"Die 800 000 poste moet ook gesien word teen die agtergrond van 2 200 000 werksgeleenthede wat in die inperkingstydperk verlore gegaan het en die miljoene meer Suid-Afrikaners wat selfs voor die pandemie nie werk kon vind nie.

"Die VF Plus is teleurgestel oor ekonomiese herstelvooruitsigte met dit wat die president vanmiddag aangekondig het.

"Leë beloftes en skadelike beleid sal die land nêrens bring nie," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.