Die jaar 2018 is byna iets van die verlede. Elkeen het sekerlik persoonlike uitdagings in die jaar gehad waarvan sommiges suksesvol en ander teleurstellend oorwin en verloor is.
In die Suid-Afrikaanse politieke landskap, en ook in die wêreld, is daar baie onsekerhede wat twyfel in die gemoedere van mense skep. Daar is toenemende vrae oor wat die toekoms inhou, hoe veilig is ons, sal ons ekonomies oorleef en sal ek nog ‘n werk hê.
Sommiges is reeds werkloos en wonder of hulle ‘n werk gaan kry om vir hul gesin te kan sorg.
"Maak seker jy lewer ‘n bydrae vir die koers waarin die land moet beweeg"
Die jaar 2019 gaan ‘n beslissende rol speel vir die toekoms van Suid-Afrika. Die algemene verkiesing sal ‘n geleentheid wees vir elke stemgeregtigde Suid-Afrikaner om ‘n rol te speel in die bepaling van die koers wat die land in die toekoms sal inneem.
Ek en die Vryheidsfront Plus wil sien dat die koers wat die land moet inneem een is waar daar wedersydse respek vir mekaar se verskille is, waar daar voorspoed, vrede en veiligheid vir almal geskep sal word. Ek wil u nooi om die VF Plus se hand te vat en hierdie pad van hoop en groei saam met ons te stap.
Daar is diegene wat die land in anargie wil dompel, wat jou jou eiendomsreg wil ontneem sonder vergoeding, wat nie omgee as die ekonomie geskaad word en werksgeleenthede sodoende vernietig word.
"Dit is juis in ons geloof waarin ons ons krag en hoop kan put"
Maak seker jy lewer ‘n bydrae vir die koers waarin die land moet beweeg.
Daar is ook baie ander persoonlike uitdagings wat voorlê vir elkeen van ons. Baie mense dink hulle kan hierdie uitdagings en twyfel in eie krag oorwin, maar dit is nie waar nie, want soos die Bybel sê: In onsself is ons tot niks in staat nie.
Dit is juis in ons geloof waarin ons ons krag en hoop kan put. Mag 2019 ‘n voorspoedige en geseënde jaar vir elkeen wees.
Dr Pieter Groenewald
VF Plus-leier