"Die klem vir ‘n suskesvolle onderwysstelsel moet op gehalte onderwys wees, eerder as ‘n goeie matriekslaagsyfer," sê Tammy Wessels, VF Plus-Jeugleier
Wessels sê die slaagsyfer vir 2018 wat Donderdagdaand deur die minister van basiese onderwys aangekondig is, is misleidend aangesien 55% van alle leerlinge wat in 2007 met graad 1 begin het, nie in 2018 matriek geskryf het nie en dus êrens langs die pad deur die stelsel in die steek gelaat is.
"Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel met sy verlaagde standaarde en hoë uitvalsyfer is bloot te gebrekkig om leerlinge na behore voor te berei vir naskoolse opleiding en die arbeidsmark. Dit plaas ‘n demper op die 2018-uitslae.
"Die VF Plus wens leerlinge wat ten spyte van moeilike omstandighede goed presteer het geluk en bedank ook die toegewyde onderwysers wat te midde van talle uitdagings 'n positiewe verskil maak.
"Die realitiet is egter dat die slaagsyfer teen die uitvalsyfer gemeet moet word," sê Wessels.
Slegs 35% van die leerlinge wat in 2007 met graad 1 (1 141 731) begin het, het in 2018 matriek geslaag. Slegs 37% van die leerlinge wat in 2016 in graad 10 (1 067 075) was, het geslaag.
"Volgens ‘n internasionale studie kan 78% van graad 4-leerlinge nie behoorlik lees nie. Dit is ‘n aanduiding van ‘n mislukte onderwysstelsel.
"Onderwys word toenemend gesentraliseer om die ANC ideologies te dien. Dit marginaliseer almal wat na beter strewe.
"Die ANC-regering prioritiseer die kunsmatige matriekslaagsyfer eerder as om die skoolkurrikulum se gehalte te verbeter, onderwysers beter toe te rus en moedertaalonderrig te bevorder.
"Die onaanvaarbaar hoë jeugwerkloosheidskoers dui op oorvloedige ruimte tot verbetering. Dit is veral diegene wat op die laer vlakke slaag, wat nie vir die werksplek of voortgesette studie voorbereid is nie.
"Die VF Plus wil dit ook beklemtoon dat Gauteng se LUR vir onderwys, mnr. Panyaza Lesufi, nie sy provinsie se hoë slaagsyfer as bevestiging vir sy omstrede onderwysbeleid moet sien nie.
"Daar moet gelet word op die feit dat sy belangrikste "hervormings" nog geen uitwerking op die matriekklas van 2018 gehad het nie.
"Die VF Plus sal aanhou veg vir beter skole, ‘n beter kurrikulum en ‘n gehalte onderwysstelsel met moedertaalonderrig," sê Wessels.