Mnr. André Moss is as die VF Plus se nuwe wetgewerlid vir Limpopo aangewys in die plek van me. Marcelle Maritz ná haar skielike afsterwe op 4 Oktober.
Moss het opgegroei in Polokwane (Pietersburg), maar het later verhuis na Tzaneen waar hy sedert November 2021 as VF Plus-proporsionele raadslid dien in die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit.
As LPW sal Moss hom toespits op nouer samewerking tussen die provinsiale en plaaslike regeringsfere om veral munisipaliteite by te staan met die herstel van vervalle infrastruktuur.
Met sy polisie-ervaring sal Moss, soos sy voorganger, fokus op landelike veiligheid en hom beywer vir die nodige beskerming vir die provinsie se boere en hul werkers.
Moss sal in die wetgewer veral betrokke wees by die portefeuljekomitees vir onderwys, landelike veiligheid en gesondheid.
Die VF Plus wens hom sterkte toe met sy nuwe taak en glo hy sal voortbou op Marcelle se goeie werk in die provinsie.


