Die ouditeur-generaal (OG), me. Tsakani Maluleke, se jongste verslag oor die stand van Mpumalanga se PFMA 2023-24-oudituitkomste onderstreep die gebrek aan vaardighede, finansiële dissipline, verantwoordbaarheid en stabiele, etiese leierskap.
Die VF Plus in Mpumalanga dring daarop aan dat die gebrek aan tydige ondersoeke om ouditverslae te verbeter, dringend ondersoek en aangespreek word. Daar moet ernstige gevolge wees vir verkeerde optrede.
ʼn Dringende mosie met bogenoemde versoek is hierdie week ingedien by die speaker van die provinsiale wetgewer, me. Lindi Lettie Masina.
Nienakoming van wette en regulasies bly hoog, veral in voorsieningskettingbestuur, wat lei tot hoë vlakke van onreëlmatige uitgawes.
Dit het gelei tot prysstygings en verkeerde toekennings aan verskaffers wat tot onbillike en onmededingende verkrygingsprosesse gelei het. Dit is hoofsaaklik weens die verontagsaming van bestuursprosesse in die voorsieningsketting weens onreëlmatige afwykings. Onreëlmatige uitgawes het nou tot R11,07 miljard toegeneem vanaf die vorige jaar se R10,36 miljard. Finansiële hoofde neem geen verantwoording vir uitstaande dokumentasie benodig vir die oudits nie.
Die vyf departemente wat 91% tot die R9,05 miljard se onreëlmatige uitgawes bygedra het, is gesondheid, onderwys, die kantoor van die premier, maatskaplike ontwikkeling en sport.
Departementele hoofde vertrou te veel op die ouditproses om die finansiële state reg te stel. Dan is dit kommerwekkend dat daar so baie vakatures in finansiële eenhede is. Dit sluit finansiële hoofde in. Die helfte (agt) van die geouditeerdes het nie finansiële hoofde in die finansiële jaar gehad nie.
Swak bestuur en toesigprosesse om aksieplanne in werking te stel en te monitor, moet dringend reggestel word. Daar moet dringend beheermaatreëls toegepas word vir die hersiening van die finansiële jaarstate en prestasieverslae.
Die VF Plus sal toenemende druk toepas op die nuwe premier, mnr. Mandla Ndlovu, om daadwerklik bogenoemde voorstelle uit te voer om die provinsie te red uit sy afwaartse finansiële spiraal.