Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NSFAS-krisis werp onsimpatieke lig op Pandor-opmerkings oor Akademia

Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) is weereens in die nuus om al die verkeerde redes.

Dit gaan oor beweerde ongemagtigde vergoeding van konsultante, probleme met die uitbetaling van verblyfgelde en algemene swak administrasie, wat vandeesweek in die portefeuljekomitee vir hoër onderwys ter sprake gekom het.

Dit werp ‘n skel lig op die opmerkings van die oud-minister van onderwys, dr. Naledi Pandor, oor die onafhanklike Afrikaanse universiteit, Akademia.

In ‘n gesprek met dr. Mbuyiseni Ndlozi in die African Rennaisance-podsending, voer hulle op 11 Augustus ‘n wydlopende en stimulerende gesprek oor die stand van akademie en die intellektuele lewe in Suid-Afrika.

As kleindogter van prof. ZK Matthews, voormalige rektor van die Universiteit van Fort Hare, vertel sy van Matthews se opdraande stryd om politieke bevryding en streng akademiese gehalte tegelyk na te streef.

Die gesprek dwaal vir ‘n paar minute af, waarin die gespreksgenote Akademia veroordeel as ‘n poging van voormalige onderdrukkers om hul posisie te behou.

Afrikaans as voertaal en die feit dat Akademia sowat R3 miljard vir die oprigting van ‘n nuwe kampus kan monster, is volgens die gesprek bewyse daarvan.

Teen dié agtergrond verskyn die minister van hoër onderwys, mnr. Buti Manamela, op 12 Augustus met sy departement voor die parlementêre portefeuljekomitee om beweerde ongemagtigde betalings en swak administrasie by NSFAS, die staat se finansiële hulpskema vir studente, te verduidelik.

Hierdie departement se begroting vir die huidige geldjaar is sowat R150 miljard, waarvan sowat R50 miljard in direkte subsidies aan 26 openbare universiteite uitbetaal word – almal se voertaal is Engels.

‘n Verdere R54 miljard word aan NSFAS toegeken, ten behoewe van studente aan openbare universiteite en kolleges – nie een rand daarvan is vir Afrikaanse onderrig nie.

Nóg die kapitaaluitleg van R3 miljard uit private bronne, nóg die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal kan as ‘n vorm van onderdrukking bestempel word. Dit is juis ‘n poging om van miskenning en selfs onderdrukking van ‘n eentalige staatskultuur in hoër onderwys bevry te word.

Die absurditeit van die bewerings kan mens lei om dit te ignoreer. Dit dui egter op ‘n groter, gevaarlike neiging wat in Suid-Afrika posvat: Dit is dat pogings in die burgerlike sfeer (dit wil sê, om iets in openbare belang maar sonder staatsgeld te doen) al meer omstrede word.

Vir rolspelers soos Pandor en Ndlozi is dit nie genoeg dat alle staatsbesteding op onderwys die oorheersende ideologie dien nie, burgerlike besteding moet dit ook doen. Dié beskouing is die grondslag van ‘n totalitêre staat en moet met mening teengestaan word.

Dit is die rol van die VF Plus op die politieke toneel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.