Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus vra duidelikheid oor Tshwane se hantering van infrastruktuurskade

Die VF Plus doen ’n beroep op die Tshwane-metro om duidelikheid te gee oor hoe skade aan munisipale infrastruktuur hanteer word – hetsy deur misdaad, ongelukke of konstruksiewerk.

Tans word daar nie in alle gevalle van opsetlike beskadiging, soos kabeldiefstal, strafregtelike klagtes by die polisie ingedien nie. Dit beteken dat sulke misdade dikwels nie ondersoek word nie en dat inhegtenisnemings meestal net plaasvind wanneer oortreders op heterdaad betrap word.

Hierdie versuim het ’n direkte finansiële impak aangesien die metro nie versekeringseise kan indien vir skade sonder ’n polisieklag nie.

Die metro betaal dus steeds versekeringspremies, maar benut nie die dekking wat beskikbaar is nie. Dit plaas die volle las van herstelwerk op die metro se begroting en uiteindelik op die belastingbetaler.

Skade wat deur voertuigbotsings, ongelukke of konstruksieaktiwiteite veroorsaak word, moet met dieselfde erns hanteer word.

Elke voorval behoort formeel aangeteken te word, die verantwoordelike partye moet waar moontlik aanspreeklik gehou word en versekeringseise moet deurlopend ingedien word.

Die VF Plus wys daarop dat die huidige onsekerheid oor rapportering en kosteverhaling die metro miljoene rand kan kos en die beskerming van openbare infrastruktuur ondermyn.

’n Duidelike, deursigtige en deurlopende proses is noodsaaklik om skade te beperk en die finansiële las regverdig te versprei.

Die metro moet sonder versuim die prosedures verduidelik en verbeter, sodat inwoners kan weet dat skade aan infrastruktuur ernstig opgeneem word en dat koste nie onnodig op die publiek afgewentel word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.