Die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se voorgestelde kragtariefverhoging van 11,2% wat aan Nersa vir goedkeuring voorgelê is, gaan ʼn onregverdige en onvolhoubare las op inwoners en ondernemings plaas wat reeds onder groot finansiële druk verkeer.
Huishoudings worstel met stygende lewenskoste en so ’n verhoging sal die druk vererger, veral vir kwesbare gemeenskappe.
Inwoners word boonop gevra om meer te betaal vir ’n diens wat dikwels onbetroubaar is, met gereelde kragonderbrekings en swak instandhouding. Dit is onaanvaarbaar om dubbelsyferverhogings te probeer regverdig terwyl dienslewering nie aan basiese standaarde voldoen nie.
Die impak op die plaaslike ekonomie sal ook ernstig wees. Klein ondernemings sal met verhoogde bedryfskoste moet saamleef, wat werksverliese en ’n afname in beleggings kan veroorsaak.
Die metro behoort eerder sy interne probleme, soos wanbestuur, verliese in die kragnetwerk en swak invordering aan te spreek eerder as om inwoners vir hierdie tekortkominge te straf.
Verder kan buitensporige tariefverhogings nie-betaling en onwettige kragaansluitings aanmoedig, wat die finansiële stabiliteit van die metro en die volhoubaarheid van die infrastruktuur verder ondermyn.
Enige tariefaanpassing moet billik, deursigtig en gekoppel wees aan werklike verbeterings in dienslewering.
’n Verhoging van 11,2% is in die huidige omstandighede eenvoudig nie haalbaar nie en nie in die belang van inwoners nie.


