Die VF Plus is diep bekommerd oor die negatiewe effek wat die ter tafel legging van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) verlede Donderdag in die parlement, sedertdien op die land se ekonomie het.
Dit is nie net die Discovery-groep se aandele wat skerp gedaal het op die Johannesburgse effektebeurs nie.
‘n Totale bedrag van R14miljard is Dinsdag weggevee van gesondheidsorgaandele se waarde op die beurs.
"Hierdie daling in waarde van aandele vind plaas aangesien daar erge onsekerheid en negatiewe sentimente oor die wetsontwerp bestaan," sê Philip van Staden, VF Plus-woordvoerder vir Gesondheid.
Luidens mediaberigte is van die maatskappye wat reeds groot verliese getoon het, Afrocentric Health, Momentum Shed, Discovery en Adcock Ingram.
"Die Suid-Afrikaanse regering het hier ‘n monster geskep"
Van Staden sê die daling in aandele kan oorspoel na ander genoteerde gesondheidsmaatskappye op die Johannesburgse effektebeurs en sodoende Suid-Afrika se ekonomie verder gaan verswak.
Hy sê dit gaan ook erge druk plaas op die toekoms van werknemers van hierdie maatskappye wat kan veroorsaak dat werknemers dalk in die toekoms afgelê sal moet word indien die aandeelpryse verder daal.
"Dit sal ‘n rippeleffek hê waar werknemers nie hul maandelikse skulde sal kan betaal nie met die gevolg dat finansiële instellings groot verliese sal ly.
"In die belang van Suid-Afrika moet die NGV-projek sonder meer gestaak word om verdere finansiële verliese in die ekonomie te voorkom.
"Suid-Afrika kan nie meer skade aan die ekonomie en aan sy tans sukkelende gesondheidsorg bekostig nie"
"Die stelsel werk nie in ander lande soos Brittanje nie.
In Ierland is pogings om ‘n soortgelyke stelsel te implementeer na vier jaar geskrap aangesien die koste van die model onbekostigbaar was.
"Die Suid-Afrikaanse regering het hier ‘n monster geskep wat hy nie sal kan beheer nie en wat noodlottige gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou.
"Suid-Afrika kan nie meer skade aan die ekonomie en aan sy tans sukkelende gesondheidsorg bekostig nie," sê Van Staden.