Ongerymdhede omring nóg ‘n voorgestelde behuisingsprojek, die Elandsheuvel-projek, wat die JB Marks-munisipaliteit wil laat goedkeur sonder dat enige bewys van ‘n ontwikkelingsplan, impakstudie of bewys van publieke deelname beskikbaar gestel is.
Die VF Plus was die enigste party wat hierdie, en twee ander soortgelyke projekte teengestaan het.
Die meerderheid in die raad het die ondeurdagte besluit deurgedruk en is in die proses om 'n versoek aan die behuising-ontwikkelingsagentskap te rig om fondse beskikbaar te stel om die grond langs Grimbeeck Park, wat as Elandsheuvel bekend staan, aan te koop vir behuising.
Dié grond kon voorheen nie eens op ‘n veiling aan die privaatsektor verkoop word nie, aangesien die ontwikkelingskoste te hoog sou wees.
Die VF Plus is van mening dat die munisipaliteit eers planne moet beraam om bestaande infrastruktuur op te gradeer, dit in stand hou en alle onvoltooide projekte af te handel om effektiewe dienste te lewer voordat begin word met nuwe ontwikkelings.
Dit is ook belangrik dat die publiek geken moet word in sake van openbare belang en dat alle wetlike voorskrifte, insluitende impakstudies en ander wetlike aspekte, nagekom moet word.
Daar is al herhaaldelik gevra dat die meesterplan vir ontwikkeling in JB Marks aan die raad voorgelê word, maar dit is nog nie gedoen nie. Die VF Plus sal aanhou om druk op die raad te plaas om insae in die plan te kry.
Die VF Plus sal terugslaan teen enige onreëlmatige optrede en dra die belange van inwoners van JB Marks op die hart.
Kontaknommers: 083 292 1157 / 079 885 1135