fbpx
Vryheidsfront Plus

Myngroep hou gemeenskapsvergadering oor Palmietfontein-prospektering ná beswaar van VF Plus

Kerosam Investments, die myngroep wat van voorneme is om vir diamante, goud, silwer en koper by Palmietfontein tussen Potchefstroom en Ventersdorp te myn, het ingestem tot ʼn gemeenskapsvergadering op 9 Junie in Ventersdorp, nadat die VF Plus in April as ʼn party van belang geregistreer het teen prospektering in die gebied.

Die VF Plus het as ʼn party van belang geregistreer om formeel beswaar aan te teken teen enige mynbedrywighede in die gebied weens die bedreiging wat dit vir landboubedrywighede inhou.

Intensiewe verbouing van produkte soos mielies, groente en veevoer vind onder meer in die gebied plaas. Hierdie landbou-aktiwiteite is grootliks afhanklik van standhoudende onderaardse waterbronne. Enige mynbou-aktiwiteit in die gebied sal noodwendig lei tot die besoedeling van hierdie waterbronne.

Die VF Plus is intussen oorval deur boere, sakelui en ander belangegroepe wat hul misnoeë met die voorgenome mynbedrywighede uitgespreek het. Die VF Plus het sedertdien hierdie gemeenskapslede bygestaan om as partye van belang te registreer.

Die party het ook in gesprek met die omgewingspraktisyn van Kerosam ooreengekom dat gemeenskapslede ook by die vergadering eerskomende Vrydag, as partye van belang kan registreer weens die aanvanklike ondeursigtigheid wat die prospekteringsaansoek gekenmerk het.

Die gemeenskapsvergadering vind op Vrydag, 9 Junie om 17:00 by die Mosaic Gastehuis te Michael Straat 100 in Ventersdorp plaas.

Die VF Plus doen ʼn beroep op alle geraakte persone en belangegroepe om die vergadering by te woon om te verseker dat hul besware formeel op rekord geplaas word.

Die party sal aanhou stry vir verantwoordelike ontwikkeling wat nie skaars natuurlike hulpbronne bedreig en gemeenskappe ontwrig nie.

Die landbousektor vorm die ruggraat van die ekonomie in die Potchefstroom en Ventersdorp gebied, en is by verre die grootste werkskepper in die gemeenskappe.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.