Dit is kommerwekkend dat die premier van Mpumalanga, me. Refilwe Mtsweni-Tsipane, se provinsiale rede vanoggend meestal ʼn herhaling van planne is wat reeds in vorige provinsiale redes aangekondig is.
Ten spyte van ‘n herhaling van swak dienslewering, onvoltooide projekte en onverantwoordelikheid teenoor die belastingbetaler, word ‘n mooi pakkie van leë beloftes en nóg nuwe projekte voorgelê.
Die premier moes eerder op die ineenstorting van plaaslike ANC-munisipaliteite gefokus het.
Op plaaslike vlak is Mpumalanga se infrastruktuur in ʼn haglike toestand en sodra daar ʼn begrotingsoorskot is, word mislukte projekte befonds in stede daarvan om te fokus op die opgradering en herstel van paaie, rioolstelsels en ander gebrekkige infrastruktuur.
Dit sluit in projekte soos die kulturele kern in Mbombela en prestasiesentrum in Emakhazeni. Ten spyte van die honderdmiljoene rande wat daaraan bestee is, is nog nie ‘n enkele baksteen gelê nie.
Solank hierdie projekte stilstaan, word geen werk geskep nie. Die oplossing is om die peperduur konstruksie van een projek af te handel voordat nuwes begin word.
Die premier het nodig om behoorlike skakeling op provinsiale vlak te bewerkstellig om sodoende te verhinder dat projekte nie tussen die krake wegraak en ʼn teelaarde vir korrupsie word nie.
Hiervoor is dit belangrik dat verkrygingsprosesse korrek funksioneer, dat wetgewing gehoorsaam word en daar seker gemaak dat die politieke wil daar is om nodige veranderings teweeg te bring en van projekte ʼn sukses te maak.
Me. Mtsweni-Tsipane spog dat nuwe heinings nou om verskeie natuurreservate gebou gaan word, maar hierdie is al twee jaar gelede belowe.
Intussen word reservate leeg gestroop soos wild, wat leeus en luiperds insluit, bykans daagliks in strikke gevang word. Teenstropingseenhede se voertuie is in ‘n haglike toestand óf daar is geen voertuie nie.
Die provinsie se vervalle paaie moet ook dringend herstel word en die agteruitgang van natuurlike toeristebestemmings moet omgeswaai word.
Dit is ironies dat sy spog dat die meerderheid van die Mpumalanga-inwoners toegang tot skoon water en elektrisiteit het aangesien daar amper elke week ‘n plaaslike protesaksie plaasvind; juis oor dienslewering en water.
Hierdie week was daar reeds twee sulke protesaksies waartydens kritiese toerismeroetes vir lang tye onbegaanbaar was.
Alhoewel die premier noem dat meer skoolmeisies nou glo toegang tot sanitêre ware het, verswyg sy die amper R9 miljoen wat verlede jaar op onbruikbare doekies vermors is.
Die tyd vir leë beloftes is verby; dit is nou tyd om daadwerklik op te tree.
Die enigste manier om Mpumalanga te red, is om by die stembus van die ANC ontslae te raak.