fbpx
Vryheidsfront Plus

Merafong: VF Plus stem teen die raad se onbeholpe en onbefondsde begroting

Die VF Plus het teen die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) se onbeholpe en onbefondsde begroting gestem.

Die begroting soos voorgestel deur die ANC-beheerde raad, is onderbefonds met ‘n uiters swak vlak van inkomsteverhaling van slegs 50% van inwoners wat die ander moet dra.

Dit het die gevolg dat diensteheffings hoër as inflasie styg soos waterheffings met 8%, vullisverwydering met 6% en riool met 8%.

Die VF Plus kan geen begroting steun wat betroubare inwoners en gereelde betalers straf met swak of nie-bestaande dienslewering nie.

Vullisverwydering vind soms nie plaas nie en daar is elke week ‘n gesukkel om dromme leeg te maak. Waterlekkasies en ou infrastruktuur is aan die orde van die dag, en word nie onderhou of vervang nie.

Vandalisering van elektriese substasies en kragbokse is algemeen terwyl kragkabels gereeld gesteel word.

Daar bestaan talle onwettige krag- en waterverbindings, gepaardgaande met meters wat gemanipuleer of omseil word.

Geen poging word aangewend om byvoorbeeld sekuriteitskameras te installeer om dit te voorkom nie.

Verder moet debiteure tot 464 dae wag vir betaling van materiaal of dienste gelewer.

Daar blyk ook ‘n vorm van diskriminasie te wees wat invorderingsaksies betref.

Geen invorderingsaksies vind by nedersettings plaas nie, maar daar word aanhoudend op sagte teikens soos die inwoners en ondernemings van Carletonville, Fochville, en Welverdiend gefokus.

Daar bestaan verder tekorte aan personeel in al die departemente van die Merafong-munisipaliteit wat deels verklaar waarom dienslewering so swak of afwesig is.

Tesame met die swak of afwesige dienslewering, moet die inwoners ook nog voorsiening maak vir ‘n elektrisiteitsverhoging van 7,47% soos voorgeskryf deur Nersa.

Merafong se ekonomie ly ook weens ‘n staking van vier maande by die Sibanya-goudmyn.

Die hardwerkende en betroubare inwoners van Merafong kan eenvoudig nie meer al die kostes absorbeer nie.

Daarom het die VF Plus die ANC-begroting met minagting verwerp.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.