Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ledeverklaring in parlement: Swak diens en onbevoegdheid by departement van binnelandse sake ontstel

"Swak diens en onbevoegdheid by die departement van binnelandse sake is onaanvaarbaar en ‘n groot probleem wat lei tot groeiende frustrasie onder alle Suid-Afrikaners," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van binnelandse sake.

"Die VF Plus ontvang weekliks navrae van moedelose Suid-Afrikaners uit alle geledere van die samelewing omdat hulle doodgewoon geen terugvoer van die departement van binnelandse sake ontvang in verband met hul aansoeke om reisdokumente nie.

"In bepaalde gevalle neem hernuwingsaansoeke vir Suid-Afrikaanse paspoorte so lank as sewe maande om af te handel en moes van hierdie aansoekers noodgedwonge hul reise teen groot koste uitstel of afstel.

 

"Selfs die telefoonnommer van die departement van binnelandse sake soos aangedui op die amptelike webwerf lui dikwels vir langer as ‘n uur voordat dit beantwoord word."

 

"Die verskoning vir die swak diens is gewoonlik dat daar ‘n opgehoopte agterstand aan werk is wat afgehandel moet word. is. Die VF Plus aanvaar nie die verskoning nie. Die departement faal Suid-Afrikaners wat daarop geregtig is om ‘n bestaande paspoort te hernu of ‘n nuwe een uit te neem.

"In die praktyk ontvang ‘n groot hoeveelheid aansoekers absoluut geen terugvoer op hul aansoeke om reisvisums nie en moet hulle ook teen groot koste hul reise uitstel of afstel. Die VF Plus bedank daarom die paar senior amptenare wat gereeld op versoek ingryp om kritieke situasies te beredder.

 

"Die departement het ‘n grondwetlike plig as bewaarder van die identiteit van Suid-Afrikaanse burgers om onder meer identiteitsdokumente, paspoorte en Suid-Afrikaanse visums uit te reik, maar faal Suid-Afrikaanse burgers jammerlik hierin."

 

"Die huidige situasie is totaal onaanvaarbaar en moet op ‘n dringende basis aangespreek word. Die VF Plus sal toesien dat die probleem wel aandag geniet," sê Mulder.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.