Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lesufi se sentralisering van voedselhulp in Gauteng immoreel en waarskynlik ongrondwetlik

Die waarnemende LUR van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, Panyasa Lesufi, se riglyne wat daarop gerig is om voedselhulp in die provinsie onder sy administrasie te sentraliseer, is volgens die VF Plus ongrondwetlik.

"Benewens die feit dat daar twyfel bestaan of die nasionale regulasies uitgereik deur president Cyril Ramaphosa en sy kabinet in alle opsigte regsgeldig is, het Lesufi self riglyne uitgevaardig rakende die verskaffing van voedsel-noodleniging deur die provinsiale regering asook private instansies en gemeenskapsorganisasies," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter en LPW in Gauteng.

"Die riglyne vereis dat die regering skenkings ontvang wat dan deur hulle versprei sal word. Enige privaatinstansies en gemeenskapsorganisasies wat self verspreiding wil doen, moet registreer en toestemming by die departement kry.

"Die VF Plus het verskeie regs- en praktiese probleme met die riglyne geïdentifiseer wat die party met die premier van Gauteng gaan opneem. Dit is belangrik dat die regering besef die regulasies en handelinge in terme van die Rampbestuurswet is steeds onderhewig aan die Grondwet."

Die volgende regs- en praktiese probleme moet behandel word:

1. Die riglyne is waarskynlik ongrondwetlik aangesien dit bots met Artikel 11 van die Grondwet wat die reg op lewe waarborg – ‘n nie-aantasbare reg – en Artikel 27(1)(b) wat die toegang tot genoegsame kos en water waarborg. Sou die Gautengse ANC-regering dus sodanig optree dat iemand se lewe in gevaar gestel word, sal dit ongrondwetlik wees.

‘n Saak kan uitgemaak word dat dood weens honger ‘n groter waarskynlikheid is as een vanweë Covid-19. Gegewe die Gauteng-regering se probleme om tans spoedeisend kospakkies by behoeftiges uit te kry, sal die sentralisering van voedsel-noodleniging die probleme net verder vererger en veroorsaak dat mense aan honger-verwante siektes kan sterf.

Private instansies en gemeenskapsorganisasies wat die behoeftes van ‘n bepaalde gemeenskap verstaan en gewoonlik vinniger en meer effektief reageer, kan arbitrêr of deur administratiewe rompslomp deur die departement van maatskaplike ontwikkeling verhinder word om in te tree waar werklike nood bestaan.

Die ANC-regering kan ook die verskaffing van voedsel misbruik om sy eie agenda te bevorder. Aangesien geen werklike oorsig tans bestaan om te kyk wie kry hulp en wie word dalk gemarginaliseer nie, is die stelsel oop vir misbruik. In dié verband het die VF Plus reeds ‘n voorstel gedoen aan die premier, David Makhura, om alle politieke partye in die wetgewer insae in die lys van behoeftiges te gee, waartoe hy wel ingestem het. Dit is egter nog nie geïmplementeer nie, maar sal steeds nie die probleem oplos van stadige dienslewering waar mense onmiddellike voedelbehoeftes het nie.

Daarom moet private instansies en gemeenskapsorganisasies toegelaat word om hul werk voort te sit ten einde ‘n groeiende humanitêre ramp te help hanteer. Dit beteken dat hulle ongestoord voort moet gaan met hul werk nadat ‘n nooddienste-permit ontvang is sonder om vir elke projek ‘n toestemmingsbrief by die departement van maatskaplike ontwikkeling te vra.

2. Tweedens het Lesufi se riglyne self geen regskrag nie aangesien alle regulasies en direktiewe alleenlik deur die president en die kabinet uitgereik kan word. Hierdie magte is nie aan die Gauteng-regering gedelegeer nie.

3. Laastens is die riglyne in botsing met die doelwitte waaraan regulasies en direktiewe in terme van Artikel 27(3) van die Rampbestuurswet moet voldoen, naamlik (a) die bystand en beskerming van die publiek, (b) die verskaffing van verligting aan die publiek, (c) die beskerming van eiendom, (d) die voorkoming en bestryding van ontwrigting, en (e) die hantering van die vernietigende en ander gevolge van die ontwrigting.

 

"Die gebrekkige bystand wat tans aan die publiek verskaf word weens voedseltekorte en stadige dienslewering, ondermyn die gestelde doelwitte. Die stelsel van ‘n toestemmingsbrief van die provinsiale regering vir private instansies en gemeenskapsorganisasies, sal enige broodnodige hulp net verder ondermyn.

"Die VF Plus gaan dus tydens die weeklikse virtuele vergadering van opposisieparty-leiers met die premier formeel die kwessie van sentrale bestuur van noodleniging aan die groot klok hang en die versekering eis dat private instansies en gemeenskapsorganisasies sonder enige toestemmingsbriewe met hul werk mag voortgaan. 

"Die VF Plus is daartoe verbind dat die regering regverdig en spoedeisend optree teenoor alle gemeenskappe rakende kosbehoeftes wat nou dreig om in die grootste humanitêre ramp sedert die Tweede Wêreldoorlog te ontaard."

 

"Dit beteken ook dat gemeenskappe vir hulself moet kan sorg deur wettige private instansies en gemeenskapsorganisasies. Volle afhanklikheid van die staat sal uiteindelik net tot die verskraling van demokratiese ruimtes en vryhede lei, nie eens om van groeiende hongersnood te praat nie," sê Alberts.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Riaan van Heerden

Kirkwood: Van groen tot vervalle

Kirkwood, ʼn eens florerende en verwelkomende dorp, word deesdae geteister met diensleweringsprobleme wat inwoners warm onder die kraag het. Dié dorp, Addo en Paterson in

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.