Dit is ʼn skande dat die laksheid van Mamusa-amptenare en ʼn gebrek aan instandhouding van die plaaslike kragnetwerk, hierdie naweek veroorsaak het dat ʼn inwoner van Schweizer Reneke, Ferdie Strauss, weens ʼn gebrek aan suurstof oorlede is.
Mnr. Strauss was afhanklik van ʼn kraggedrewe suurstofmasjien. Probleme met skakelaars by die dorp se hoofkragstasie het gelei tot ʼn kragonderbreking vanaf 07:00 Vrydagoggend tot Sondagaand.
Die VF Plus dring sedert Desember 2023 by die ANC-geleide Mamusa-plaaslike munisipaliteit daarop aan dat die kragnetwerk behoorlik hersien en opgegradeer word.
Die party het ook vandag in ʼn skrywe aan die speaker, Gotsilekgosi Batsi, daarop aangedring dat die herstel en opgradering dringend geprioritiseer word en dat die persone verantwoordelik vir die oponthoud, aanspreeklik gehou word.
Die inwoners van Schweizer Reneke en omliggende gemeenskappe ly reeds lank onder die plaaslike ANC-administrasie se laksheid en ʼn algemene gebrek aan onderhoud van noodsaaklike infrastruktuur.
Die VF Plus sal bly stry vir verantwoordelike en professionele dienste in Mamusa.