Nadat daar lank nie ag geslaan is op die oproepe van die VF Plus om onwettige plakkers te skuif wat hul strukture op dreineringstelsels bou nie, word dit nou inderhaas ʼn prioriteit nadat dit reeds probleme veroorsaak het.
Dit situasie wek die indruk dat die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, te laat wakker geskrik het met die verskuiwing van die mense.
Die realiteit is dat die onwettige bousels daartoe bygedra het dat die omvang van waterskade en oorstromings in sekere gemeenskappe en informele nedersettings, veel erger is as wat dit sou wees.
Die Stad Kaapstad moet die volle blaam aanvaar vir sy versuim om betyds op te tree
Die VF Plus in die Stad Kaapstad het van November 2021 tot Mei 2024 die probleem van die besetters en die voorsiene gevolge daarvan teenoor die stad se water- en sanitasiekomitee en die burgemeesterskomiteelid geopper. Niks is gedoen nie.
ʼn Dringende beroep is ook tydens hierdie komiteevergaderings en aan die direktoraat gedoen om met menslike nedersettings en ander direktorate saam te werk om die besetters te skuif, maar ook dit het op dowe ore geval.
Die burgemeester moet sê waarom daar so lank met uitsettingsproses en verskuiwing van die strukture gesloer is. Hy kan nie nou al die skuld op die plakkers wil afskuif nie.
Die VF Plus verwelkom egter die jongste aankondiging van ʼn ramptoestand deur die Wes-Kaapse premier, Allan Winde. Dit sal help om bykomende hulpbronne beskikbaar te stel om hopelik verdere skade en lyding te voorkom.
Die VF Plus se hart gaan uit na almal wat op een of ander wyse geraak is deur die stormweer en doen ʼn beroep op alle rolspelers en die publiek om alles moontlik te doen om mekaar in hierdie beproewende tyd te help en te onderskraag.