"Suid-Afrikaners en veral die land se gesondheidswerkers, sluk swaar aan president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die Kubaanse mediese werkers met die Nobelprys vereer moet word vir hul plaaslike werk in die stryd teen Covid-19," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Suid-Afrika se eie mediese helde word tragies misken deur die president se uitsprake in dié verband.
"Die land se eie gesondheidswerkers moet daagliks hul werk onder uiters moeilike omstandighede doen, in baie gevalle met min of geen hulp wat betref medisyne, beddens of beskermende klere en toerusting.
"Hierdie reuse opoffering van die land se gesondheidswerkers word onderstreep deur die feit dat die sterftesyfer onder plaaslike gesondheidswerkers weens Covid-19 die vyfde hoogste in die wêreld is."
"Wat die Kubaanse betrokkenheid aanbetref, het die VF Plus voortdurend daarop gewys dat die kundigheid van plaaslik afgetrede dokters en verpleegpersoneel voorkeur moes kry. Dit het nie gebeur nie en 217 Kubane is teen R240 miljoen na die land gebring.
"Die omvang van hierdie vergryp blyk duidelik uit statistiek wat in Januarie vanjaar bekend gemaak is wat wys dat 40 000 poste tans vakant is in die departement van gesondheid en dat talle dokters sukkel om werk te kry.
"In November 2020 moes ‘n groot aantal dokters wat hul internskap van twee jaar moes doen, verneem dat daar nie geld is om hulle te betaal nie.
"Kubaanse dokters is nie die oplossing vir enige van die land se gesondheidsprobleme nie. Die regering moet eerder die gesondheidstelsel opknap en die plaaslike kundigheid gebruik. Kubane is bowendien nie vertroud met plaaslik omstandighede nie."
"Dit is wyd bekend dat mediese sorg een van Kuba se grootste uitvoerprodukte is.
"Die tydskrif Time het in 2018 berig dat dit die Kubaanse staatskas aanvul met (in Randwaarde) sowat R210 miljard per jaar. Dit terwyl die dokters self glo slegs tussen 10% en 25% van hul salarisse ontvang.
"Die VF Plus wil daarom elke dokter en gesondheidswerker in die land bedank vir hul harde en onbaatsugtige werk, nie net tydens die pandemie nie, maar te alle tye onder uiters moeilike omstandighede. Hulle is die ware helde," sê van Staden.