Die VF Plus is bekommerd dat Mosselbaai-plaaslike munisipaliteit se "Energiemeesterplan" nie genoeg aandag aan kragopwekking deur inwoners en besighede skenk nie en dat dit nie voldoende met omringende energieplanne koördineer nie.
Hierdie bekommernisse is in 'n brief aan die munisipale bestuurder, Mnr. Colin Puren, gekommunikeer.
Die Wes-Kaapse provinsie, die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en omringende plaaslike munisipaliteite het elkeen 'n energiemeesterplan en is dit belangrik dat Mosselbaai daarmee rekening hou om deur samewerking koste te spaar en implementering te bespoedig. Dit lyk of dit tans nie die geval is nie.
Verder is daar munisipaliteite elders in die land wat reeds alternatiewe kragopwekkingstelsels en planne in werking gestel het om kraglewering te stabiliseer. Dit sluit die Mafube-plaaslike munisipaliteit gesetel in Frankfort in, waar die kragnetwerk en sekere aspekte van opwekking deur 'n private instansie namens die munisipaliteit behartig word.
Verder koop Orania in die Noord-Kaap reeds sowat 'n derde van sy elektrisiteit van inwoners en produserende verbruikers met sonpanele op dakke en 'n sonplaas wat spesifiek vir dié doel gebou is. Kaapstad het ook reeds planne in werking gestel.
Dit lyk ook nie of Mosselbaai ontluikende tegnologie wat binne vyf jaar in werking gestel kan word, soos kleinskaalse modulêre kernkrageenhede, in aanmerking neem nie.
Die munisipaliteit se plan om self 1 Megawatt krag op te wek, moet opgeweeg word teen aankope van private verskaffers, produserende verbruikers sowel as ondernemings wat spesifiek vir kragverskaffing opgerig word.
Die VF Plus sal enige poging van die munisipaliteit om private kragopwekkers te belas vir die krag wat hulle opwek, teenstaan.
Die VF Plus sien uit na 'n toekoms waar kragopwekking oor die land verspreid is en waar burgers self ook daarvoor verantwoordelikheid neem.
Dit is verkieslik dat die owerhede (plaaslik, provinsiaal en nasionaal) die klem liewer op regulering plaas en opwekking grootliks aan die private sektor en private eienaars oorlaat.