"Die mense van die Kaap is die enigste werklike verloorders in die voortslepende stryd tussen die DA en Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, en die tyd het aangebreek dat kiesers ‘n alternatiewe party soos die VF Plus steun wat sonder skroom die belange van die Kaap se wit en bruin minderhede eerste sal stel," sê Corné Mulder, VF Plus-leier in die Wes-Kaap.
Mulder sê met aanstaande jaar se algemene verkiesing om die draai sal dié interne probleme in die DA die ANC ongetwyfeld met hernude moed en ywer laat voorberei om ontnugterde kiesers na sy kamp te lok om in die toekoms weer beheer oor die stad én provisie te neem.
"Dit mag nie gebeur nie.
"Die VF Plus sal in ‘n koalisie met ander partye saamwerk om die ANC uit regering te hou in die belang van al die Wes-Kaap se mense.
"Die krisis wat dié struwelings veroorsaak is so erg dat die DA self erken dat Kaapstad op “noodbeplanning” aangewese is om te funksioneer.
"Die DA se besluit om aansoek te doen om appèl aan te teken teen die uitspraak van ‘n volbank regters van die Kaapstadse hooggeregshof wat aan De Lille weer volle lidmaatskap van die DA besorg het, is ook betreurenswaardig.
"Dié party wys daardeur dat hy, net soos oud-president Jacob Zuma, hom nie neerlê by die uitspraak van ‘n hof nie en bereid is om die proses van litigering uit te rek ten koste van sy kiesers wat beter as dit verdien.
"Dit blyk ook dat daar nie gou ‘n einde aan die geveg gaan kom nie aangesien De Lille môre in dieselfde hof ‘n aansoek gaan bring dat die DA dokumente met ernstige beweringe oor haar aan haar beskikbaar sal stel.
"Ook dit kan ‘n lang, uitgerekte en duur proses raak wat dalk ‘n klimaks kan bereik kort voor aanstaande jaar se algemene verkiesing. Kapenaars kan nog ‘n duur prys vir hierdie DA-debakel betaal, en dit moet ten alle koste vermy word," sê Mulder.