Die ANC-regering probeer die indruk skep dat onwillige verkopers die enkele groot rede is waarom die grondhervormingsproses misluk en dat onteiening sonder vergoeding daarom onvermydelik is. Die realiteit is egter dat onder meer die onbevoegdheid van amptenare ‘n groot remskoen in die proses is.
Oud-president Kgalema Motlanthe sê ook in sy verslag oor grondhervorming dat gebreke in beleid, swak toepassing van bestaande wette en korrupsie onder amptenare van die vernaamste redes is waarom grondhervorming nie vorder nie.
Die totale proses is nou verder gekniehalter met die instelling van die Kantoor van die Waardeerder-Generaal (WG) wat sedert 2016 die finale sê het oor die waarde van grond in ‘n grondeis.
In antwoord op geskrewe vrae in die parlement deur die VF Plus oor die funksionaliteit van die WG se kantoor, het die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, erken dat die kantoor bloot ‘n verdere bottelnek vorm wat groot vertragings veroorsaak.
Van die 827 waardasie-aansoeke wat die WG in die eerste jaar na sy totstandkoming in 2016 (2016/17) ontvang het, is minder as die helfte (slegs 409) gefinaliseer.
In die 2017/18-boekjaar het die aansoeke skerp toegeneem tot 1 363 waarvan slegs 749 afgehandel is. Dit beteken dat net 1 158 aansoeke afgehandel is van die 2 190 wat die kantoor sedert sy stigting in 2016 ontvang het.
"Dit hou groot implikasies vir boere in wie se hande met ‘n eis gebind word om sinvol verder te boer of sy toekoms te beplan," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier in 'n verklaring.
"Die doel van die kantoor was volgens die regering om 'billike en regverdige' vergoeding vir grond vas te stel deur sy eie waardasies. In die praktyk is daar egter groot ontevredenheid oor die WG se waardasies wat in sommige gevalle so laag as 45% van die departement se waardasie is.
"Die rede hiervoor is dat die WG ‘n stel subjektiewe kriteria het wat ‘n groot invloed het op sy waardasie-bepaling," sê Groenewald.
Luidens die geskrewe antwoorde van die minister is dit:
Groenewald sê die WG se besluite en beslissings hieroor is eensydig en finaal en lei tot groot verwarring en ontevredenheid onder grondeienaars omdat daar in baie gevalle nie duidelikheid is waarom die waardasies so ver benede markwaarde is nie.
"Die minister sê in haar geskrewe antwoord voorts dat die gemiddelde tydsverloop om ‘n waardasie te prosesseer sowat vyftig werkdae is, net langer as twee maande.
"Uit korrespondensie met personeel van die grondeise-kommissaris in die VF Plus se besit, blyk dit egter dat daar groot frustrasie selfs in dié kantoor is oor die gesloerdery in die kantoor van die WG waar daar in sommige gevalle na agt maande nog geen uitslag is nie en dit duidelik ‘n gesukkel is om bloot te kommunikeer met personeel van dié kantoor.
"Die regering moet ophou met sy aanhoudende verdagmaking van boere as narratief vir sy eie mislukking met die grondeise-program. Veral die kantoor van die WG het dringende aandag nodig en sy kapasiteit sal dringend en daadwerklik versterk moet word om die proses te versnel," sê Groenewald.