Die Johan Koen-voëlreservaat en -dam in Ninapark (Pretoria), ʼn inisiatief van die VF Plus in die Tshwane-metro, is oop vir besoekers.
Die projek is die eerste in sy soort in Tshwane en is aangepak in samewerking met mnr. Pieter Dicks, direkteur van parke en Dinah Shopa van natuurbewaring.
Die stadsbestuurder van die metro, Johan Mettler, het die gebied verlede Vrydag as ʼn gemeenskapsdistrik-opheffingsprogram goedgekeur.
Dit beteken daar is nou ʼn gestruktureerde samewerkingsooreenkoms tussen die gemeenskap en die metro om na die gebied om te sien en dit skoon en netjies te hou.
Die VF Plus se voormalige burgemeesterskomiteelid vir gesondheid het die projek geïnisieer om onder andere kinders meer van natuurbewaring te leer en ook ʼn bydra te lewer tot inwoners se geestesgesondheid.
Mense van alle ouderdom kan geestesgesondheidsprobleme ontwikkel en die visie is dat die park ʼn veilige hawe vir oud en jonk sal wees waar hulle kan ontspan en die rustigheid en die natuurskoon geniet.
Die VF Plus nooi inwoners uit om deel te neem aan opruimingsgeleenthede vir die gemeenskap by die reservaat asook ander geleenthede wat aangebied sal word.
Die opruim en instandhouding van natuurlike gebiede dra by tot die bewaring van die omgewing en plaaslike wild- en voëlspesies.


