Die VF Plus het die burgemeester van die Randwest City-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria), Willian Matsheke, versoek om dringend ʼn veelparty-komitee aan te stel om dié munisipaliteit se Eskom-rekening te ondersoek.
Luidens ʼn 2024/25-finansiële kwartaalverslag wat vandeesweek voor die raad gedien het, het die munisipaliteit in Julie, Augustus en September R416,4 miljoen se elektrisiteit van Eskom aangekoop.
Die munisipaliteit het egter in dieselfde periode net fakture ter waarde van R271,4 miljoen aan verbruikers gestuur.
Dit is ʼn onder-fakturering van R145,2 miljoen.
Die veelparty-komitee moet dringend vasstel wat die oorsaak van die probleem is en ʼn verslag aan die raad voorlê.
Die Randwest City-munisipaliteit is reeds diep in die skuld by Eskom en kan nie sy maandelikse rekening aan die diensverskaffer betaal nie.
ʼn Onderverhaling van kragskuld dra net verder by tot die probleem.