Die inwoners van Chrissiesmeer is keelvol oor die haglike toestand van paaie op dié dorp.
Chrissiesmeer het slegs twee teerpaaie. Die ander is grondpaaie.
Dit is die toestand van dié grondpaaie wat inwoners warm onder die kraag het.
Chrissiesmeer val onder die ANC-beheerde Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit wat ook Breyten, Davel, Ermelo en Lothair bedien.
Die afgelope twee jaar het die toestand van die paaie veral vererger weens die hoë reënval wat die gebied ervaar het.
Die grondpaaie is vol slaggate en van die paaie se skouers is op sekere plekke so erg verspoel dat dit totaal onbegaanbaar is vir enige voertuig.
Stormwaterslote word sommer langs die paaie gegrawe waarvan sommige verstop is met vullis wat die munisipaliteit self daar stort.
Klagtes van inwoners aan die ANC-wykraadslid, mnr. Mandla Nzimande, het op dowe ore geval.
Inwoners het ook die munisipaliteit se inbelsentrum gekontak, maar geen reaksie ontvang nie.
Die VF Plus het self reeds in 2022 die toestand van die paaie onder die munisipaliteit se aandag gebring met ‘n e-pos aan verskeie munisipale adresse asook ‘n kaart van die paaie en foto’s om die skade aan te toon.
Ook hier is geen reaksie ontvang nie – nie eens ‘n ontvangserkenning nie.
Inwoners het hierop self moue opgerol en van die paaie geskraap en slaggate opgevul.
Die 2022/23-finansiële begroting van Msukaligwa maak slegs voorsiening vir ‘n skamele R2 miljoen vir die herstel van die hele munisipale gebied se paaie.
Chrissiesmeer is ‘n baie gewilde toeristebestemming, maar die toestand van sy paaie maak dit lewensgevaarlik vir padgebruikers en het ‘n nadelige effek op toerisme en die dorp se ekonomie.
Dit is ‘n skande dat die ANC-beheerde munisipaliteit die eens gesogte toeristedorp so laat verval het.
Die VF Plus het opnuut ‘n skrywe gerig aan die munisipale bestuurder, Maqhawe Kunene en die burgemeesterskomiteelid vir tegniese dienste, Thenjiwe Motha, om aan te dring op optrede.
Chrissiesmeer verdien beter as die ANC.