fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien MRK-klag in oor Vhembe-waterkrisis

Die VF Plus het 'n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit oor die voortslepende waterkrisis waaraan niks gedoen word nie.

Inwoners van Louis Trichardt (Makhado) en Musina gaan vir etlike jare gereeld gebuk onder ernstige wateronderbrekings.

Tans sit sommige inwoners van dié twee dorpe vir weke en sommige selfs maande sonder water.

’n Makhado-grootmaatwaterprojek van R515 miljoen is in 2014 van stapel gestuur en was veronderstel om in 2017 voltooi te wees.

Sedertdien moes inwoners tevrede wees met verskeie onvervulde beloftes en is die datum van voltooiing elke jaar bloot verleng.

Die jongste belofte is dat die projek in Maart 2023 voltooi sou word.

Inwoners moet intussen na boorgate en buurdorpe ry om water aan te skaf of om water teen hoë koste aan te koop.

Die probleme is telkens deur die party sowel as lede uit die gemeenskap by die distriksmunisipaliteit sowel as die Makhado- en Musina-plaaslike munisipaliteite aangemeld.

Die VF Plus het al in Oktober 2022 die LUR vir Cogta, mnr. Baisikopo Mokamu, en die premier, mnr. Stan Mathabatha, op 6 Februarie 2023, versoek om dringend in te gryp by die waterkrisis. Daar het helaas nog niks gebeur nie.

Die politieke wil om dienslewering te verbeter, ontbreek duidelik.

Na bewering is daar verskeie redes vir die waterkrisis: Beurtkrag wat 'n impak het, dieseltekorte vir die kragopwekkers, die toesighouer van die perseel wat nagelaat het om die kragopwekker tydens beurtkrag aan te skakel en meer.

Dit verklaar nie hoekom hierdie probleem al jare voortduur nie en geen werklike stappe word geïmplementeer om te verseker dat die inwoners water ontvang nie.

Inwoners se menseregte word hierdeur geskend.

Sonder water kan daar nie behoorlike sanitasie wees nie wat ‘n gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.

Die inwoners van Louis Trichardt en Musina kan nie langer wag vir daadwerklike optrede nie.

Die VF Plus sal aanhou druk toepas en veg vir inwoners se reg tot voldoende, skoon water.

Louis Trichardt en Musina verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.