Tydens 'n vergadering van die portefeuljekomitee vir hoër onderwys, wetenskap en innovasie, het die voorsitter, me. Nompendulo Mkhatshwa, duidelik gemaak dat daar geen ruimte vir Afrikaans of Afrikaners se kulturele identiteit is nie. Daarmee weerspreek sy in werklikheid artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet.
Tydens 'n ontmoeting van die komitee met verteenwoordigers van die Universiteit van Pretoria (UP) is vordering met betrekking tot transformasie bespreek.
Die afvaardiging van die studenteraad het hulle kommer daaroor uitgespreek dat Afrikaans in die naam van veeltaligheid heringestel kon word. Hulle sal daarop aandring dat Engels die enigste gebruikstaal bly, tot Sepedi tot dieselfde vlak as Afrikaans ontwikkel is.
Die universiteit het daarop aangedring dat die UP nie as 'n getransformeerde universiteit bekend kan wees nie, maar as transformerend. In daardie proses word alle koshuise, fakulteite en leerplanne verander om te dekoloniseer en die demografie van Suid-Afrika te weerspieël.
In reaksie het die VF Plus genoem dat die party ten gunste van die ontwikkeling van Sepedi tot akademiese taal is. Nogtans bly die vraag hoe groot die behoefte aan Sepedi as universiteitstaal is. Die behoefte aan Afrikaans op daardie vlak is al bewys en dit sou onredelik wees om te verwag dat Afrikaans moet terugstaan totdat Sepedi genoegsaam ontwikkel is as die behoefte afwesig is.
Verder het die VF Plus daarop gewys dat die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, onlangs op 'n vraag van die VF Plus geantwoord het dat artikel 235 (die artikel wat vir selfbeskikking voorsiening maak) ook in hoër onderwys toepaslik is – dit mag net nie 'n meganisme tot uitsluiting wees nie.
Die VF Plus het in die portefeuljekomitee daarop gewys dat dit nie kan gebeur as elke koshuis en elke ruimte van elke kampus binne elke universiteit die demografie van die land moet weerspieël nie.
In haar samevatting het die voorsitter, Me. Mkhatshwa, genoem dat transformasie presies beteken dat elke ruimte in hoër onderwys die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel moet weerspieël. Sy het daarop aangedring dat, as die departement van hoër onderwys sy mag moet gebruik om dit te bewerkstellig, dit so moet gebeur.
Artikel 235 van die Grondwet lui soos volg: "Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat 'n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne 'n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal."
Hierdie grondwetlike bepaling is nie bestaanbaar met die voorsitter van die portefeuljekomitee se siening van transformasie nie.
Die siening dat die Grondwet kulturele regte in Suid-Afrika beskerm, word hierdeur nogmaals verkeerd bewys.
Kultuurgroepe wat aan die beskrywing in artikel 235 voldoen, word toenemend gedwing om hulle eie instellings in die private sfeer te skep, omdat die regering openbare instellings volgens die ANC-siening bedryf.