Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hoog tyd dat Malema kortgevat word oor haatspraak

Dit is hoog tyd dat Julius Malema, leier van die EFF, vasgevat word oor sy haatdraende en rassistiese uitsprake en die VF Plus verwelkom die uitspraak van die gelykheidshof in Kaapstad wat Malema aan haatspraak skuldig bevind het.

Die hof het vandag bevind uitsprake wat Malema in 2022 in Kaapstad gemaak het en plakkate wat lede van die EFF vertoon het, was haatspraak en aanhitsing tot geweld.

Die saak het gespruit uit klagte van die menseregtekommissie (MRK) ná ‘n voorval in 2020 by die Hoërskool Brackenfell toe onder meer ouers van die skool se leerlinge met EFF-lede slaags geraak het.

Malema het onder meer verwys na ‘n man wat handgemeen geraak het met ‘n EFF-lid en het gevra waarom daar nog nie met die persoon afgereken is nie. Hy het ook gesê ‘n revolusie vereis soms dat mense doodgemaak moet word.

Die VF Plus het in Oktober 2022 ‘n klag teen Malema by die MRK aangedien en die MRK het kort daarna bevind dat die EFF-leier hom wel aan haatspraak skuldig gemaak het.

Die VF Plus het daarop aangedring dat die MRK daadwerklike stappe neem deur Malema by die gelykheidshof te verkla – wat wel gedoen is.

Vandag se uitspraak is nie algemeen verwysend na Malema se uitsprake en sy gereelde sing van die lied “Kill the Boer” nie.

Dit is egter verblydend dat ‘n hof wel die bevinding gemaak het en dit plaas opnuut die kollig op die appèlhof se bevinding verlede jaar dat “Kill the Boer” nie haatspraak is nie.

Die VF Plus is van mening dat “Kill the Boer” wel haatspraak en verdelend is en dat dit veral in ‘n land soos Suid-Afrika, waar rassespanning gereeld na die oppervlak kom, nie geduld kan word nie.

Malema het duidelik die indruk begin kry dat hy onaantasbaar is en kan beledig, dreig en slegsê soos hy wil sonder enige gevolge – veral ná die appélhof-uitspraak.

Pres. Cyril Ramaphosa kan ook kennis neem van die uitspraak ná sy weiering om “Kill the Boer” te veroordeel nadat pres. Donald Trump van die VSA hom onlangs daaroor gekonfronteer het.

Die VF Plus sal wil sien dat die hof met sy vonnis ‘n kragtige boodskap sal stuur aan almal in Suid-Afrika dat haatspraak en rasseverdeling nie aanvaarbaar is nie.

Nog minder die gewoonte om konteks as blatante verskoning te misbruik om dit goed te praat. Die VF Plus glo in die waarheid van die gesegde dat die mond oorloop van dit wat die hart van vol is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.