Die VF Plus het ʼn skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Sarah’s Baartman-distriksmunisipaliteit, me. Unati Daniels, en gevra dat daar dringend opgetree word om oplossings te vind vir die gevaarlike verkeersirkel by die ingang van Kirkwood vanaf die R336. Dié roete verbind Addo met Kirkwood.
Die party word oorval met klagtes van inwoners oor ‘n gevaarlike gewoonte van sommige motoriste om kortpad regsom die sirkel te vat in die rigting van aankomende verkeer.
Hierdie onding het ‘n gewoonte vir sommiges geraak wat hulle bloot nie steur aan enige verkeersreël nie. Dit spreek vanself dat dié roekelose optrede lewensgevaarlik is vir alle ander padgebruikers.
Indien daar nie onmiddellik opgetree word om oplossings te vind vir hierdie wettelose optrede nie, gaan dit sonder twyfel tragiese gevolge hê.
Die VF Plus het beeldmateriaal van oortreders aan me. Daniels verskaf met die versoek om teen die persone op te tree.
Die VF Plus het die volgende ingrypings versoek:
• Nog pad- en waarskuwingstekens om aan te dui dat daar ʼn verkeersirkel is.
• Spoedbeheermaatreëls soos spoedbulte en kameras.
• Gereelde sigbare teenwoordigheid van verkeersbeamptes.
Me. Daniels het intussen aan die VF Plus bevestig dat sy die probleem geëskaleer het na die departement van infrastruktuur.
Die VF Plus sal die saak opvolg om toe te sien dat daar spoedig opgetree word.


