fbpx
Vryheidsfront Plus

Heropening van hoër- en basiese onderwys: Instellings moet self kan besluit, geen dwang behoort toegepas te word nie

"Die departemente van basiese – sowel as hoër onderwys se finale besluit oor die heropening van die onderwyssektor het die klem op die ongelyke vermoëns van onderwysinstellings geplaas," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese- en hoër onderwys, wetenskap en innovasie.

"Terwyl sekere skole, kolleges en universiteite in staat is om aan die vereistes vir heropening sonder gesondheidsrisiko te voldoen, is ander geheel en al ongereed. Die onderskeid geld ook vir distrikte waar die Covid-19-epidemie afwesig is, teenoor die wat in die greep daarvan is.

 

"Hierdie werklikheid bevestig die VF Plus se standpunt dat Suid-Afrika as staat oormatig gesentraliseerd is. Daarom word besluite nasionaal geneem, wat veel eerder op plaaslike vlak geneem kan word."

 

"In die finale instansie is kinders die verantwoordelikheid van hul ouers en geen ouer behoort gedwing te word om besluite oor skoolbywoning te neem waarmee hulle ongemaklik is nie. Tog moet onderwys en opleiding op die een of ander manier hervat word.

"Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, het daarna verwys dat Suid-Afrika 'n ongelyke onderwysbedeling het, met sekere instellings wat beter voorbereid is om hul werk te hervat. Hy wyt hierdie verskille op die geskiedenis voor 1994, sonder om te verrreken dat dit ook wanbestuur in die huidige en mees onlangse akademiese jare is wat sommige instellings benadeel.

"Desnieteenstaande het hy daarop gewys dat doeltreffende instellings toegelaat moet word om voor die ander te heropen, omdat hulle waardevolle ervaring kan opdoen. Alle studente kan uiteindelik daarby baat vind. Dieselfde beginsel behoort ook by skole te geld.

 

"Vir ouers en leerlinge wat tuis wil leer, is talle moontlikhede beskikbaar. Dit is opmerklik dat die direkteur-generaal van basiese onderwys in sy voorlegging aan die portefeuljekomitee gewys het op die rol wat organisasies vir tuisskole kan speel."

 

"Tevore het tuisskole beleef dat hulle deur die departement met agterdog bejeën is, maar nou word hulle blykbaar as waardevolle vennote erken. Selfs vir universiteitstudente is daar moontlikhede wat hulle minder van die staat afhanklik maak.

"Ook op onderwysgebied is die mensdom tans op onbekende terrein. Ouers, onderwysers en studente moet hierdie situasie op so 'n manier navigeer dat onderwys meer selfstandig van die staat word," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.