Die gesloer van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming om die jongste grondouditverslag van die regering openbaar te maak, is ‘n slenter om sekere feite van die publiek te weerhou in ‘n poging om die land oor die aangeleentheid te mislei, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Volgens dr. Groenewald dui uitgelekte inligting van die verslag in die media op ‘n hele aantal ernstige feitefoute.
"Die verslag is suiwer plagiaat uit ‘n VN-verslag van jare gelede wat handel oor Oos-Europa en dit het niks met Suid-Afrika te doen nie"
"Een voorbeeld is waar die verslag glo aandui dat Suid-Afrika 112,9 miljoen hektaar landbougrond het terwyl navorsing van 2016 deur kundiges soos Agri Development Solutions (ADS) in samewerking met Landbouweekblad en Agri SA toon dat daar slegs 93,25 miljoen hektaar landbougrond is.
“Volgens prof. Ruth Hall van die Instituut vir Armoede, Grond en Agrariese Studies (Plaas) toon die verslag van die regering dat plagiaat gepleeg is uit ‘n ou VN-verslag.
“Prof. Hall voer aan dat die aanbevelings in die verslag suiwer plagiaat is uit ‘n VN-verslag van jare gelede wat handel oor Oos-Europa en dit het niks met Suid-Afrika te doen nie.
“Dit is duidelik dat die regering en die ANC die publiek wil mislei oor die grondkwessie. Die regering weet dit is blote propaganda dat 80% van grond in Suid-Afrika deur wittes besit word.
“Deur hierdie misleiding dryf die regering sy eie politieke agenda om regverdiging te kry vir sy standpunt van grondonteiening sonder vergoeding terwyl hy weet grondhervorming het misluk weens korrupsie en die onvermoë van die departement om die proses te bestuur.
“Ek het reeds in ‘n parlementêre vraag die minister versoek om die volledige verslag openbaar te maak sodat Suid-Afrika kan sien hoe die regering en die ANC die mense van die land mislei deur onwaarhede oor die aangeleentheid te verkondig,” sê dr. Groenewald.