Eskom het ‘n kennisgewing uitgereik waarin inwoners gewaarsku word dat beurtkrag vanaf 23 Maart 2018 toegepas gaan word weens die munisipaliteit se versuim om sy reuse uitstaande skuld van R1.74 miljard aan die elektrisiteitsverskaffer te betaal.
"Die toekoms van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Odendaalsrus, Hennenman, Allanridge) is daarom letterlik en figuurlik donker as daar nie dringend in dié munisipaliteit se finansies ingegryp word nie," sê Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.
“Die VF Plus eis 'n daadwerklike langtermyn oplossing vir die munisipaliteit se finansiële toestand wat onmiddellike dissiplinêre stappe teen die munisipale bestuur en ingryping deur die nasionale en provinsiale regering insluit.
"Die munisipaliteit kan nie elke keer ‘n interdik kry om hierdie verskaffers te dwing om hul goedere en dienste aan die munisipaliteit te lewer sonder dat die munisipaliteit daarvoor betaal nie."
“Die munisipaliteit se finansiële toestand is benard en versleg by die dag. Die munisipale bestuur is nie daartoe in staat om behoorlike kontroles in plek te stel en toe te pas nie. Die munisipale bestuurder moet verantwoordelik gehou word aangesien die totale uitstaande krediteure ongeveer R3.73 miljard beloop. Hierdie verskaffers sluit onder andere Eskom en Sedibeng Water in wat net eenvoudig nie betaal word nie.
"Sedibeng Water het ook gedurende die week die watervoorsiening na die munisipaliteit afgesny weens ‘n verskuldigde bedrag van R1.98 miljard. Die munisipaliteit het ‘n dringende interdik bekom om Sedibeng Water te dwing om die watervoorsiening na die gebied te herstel.
“Die munisipaliteit kan nie elke keer ‘n interdik kry om hierdie verskaffers te dwing om hul goedere en dienste aan die munisipaliteit te lewer sonder dat die munisipaliteit daarvoor betaal nie. Betalende verbruikers het ‘n reg op die water en elektrisiteit waarvoor hulle betaal, maar weens die algehele wanbestuur deur die ANC-beheerde munisipaliteit word nie net betalende verbruikers daarvan weerhou nie, maar word daar inbreek gemaak op duisende inwoners se grondwetlike reg van toegang tot die mees basiese dienste soos water.
“Dit is tyd dat Matjhabeng ook soos die Mafube- (Frankfort, Villiers, Tweeling, Cornelia) en Masilonyana- (Theunissen, Brandfort, Winburg, Verkeerdevlei) plaaslike munisipaliteite onder administrasie geplaas word.
“As dringende provinsiale ingryping nie binnekort ‘n beduidende verandering in die munisipaliteit bewerkstellig nie moet ingryping op nasionale vlak plaasvind, anders sal die lyding van die inwoners van Matjhabeng bloot vererger,” sê Taljaard.