Die VF Plus veroordeel die gewelddadige protesoptrede van inwoners van Embalenhle wat gelei het tot die dood van ‘n 14-jarige seun en die vernietiging van staats- en privaateiendom ten sterkste.
Die protesaksie waarmee inwoners van Embalenhle hul misnoeë met die swak dienslewering van die GMM wou uitdruk, het aanvanklik vreedsaam begin, maar het uiteindelik tot die dood van die seun gelei. Munisipale eiendom is ook vernietig.
Om ‘n munisipale gebou wat verlede jaar herbou en einde November 2020 weer in gebruik geneem is en verskeie splinternuwe munisipale voertuie aan die brand te steek, sal nie lei tot beter dienslewering deur die ANC-beheerde Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) nie.
Die GMM bedien buiten Embalenhle ook Bethal, Charl Cilliers, Evander, Kinross, Leandra, Secunda en Trichardt.
Hierdie tipe betogings in die munisipaliteit beïnvloed die ekonomie uiters negatief aangesien klein- en groot sakeondernemings sukkel om in sulke omstandighede te funksioneer en potensiële beleggers afskrik om in die gebied te belê.
Die munisipaliteit wend ook geen daadwerklike pogings aan om 'n omgewing te skep wat gunstig is vir werkskepping en ekonomiese groei nie.
Dit is die getroue belastingbetalers van die GMM wat nou weer moet opdok vir al die skade wat die betogers veroorsaak het.
Inwoners van die GMM moet die komende plaaslike regeringsverkiesing op 27 Oktober benut om saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat sy geskepte breek-en-brand-kultuur in dié munisipaliteit nie langer geduld sal word nie.
Navrae: 082 795 8895 / 066 376 3329