Met 'n video op sosiale media het die EFF Donderdag sy dreigement herhaal om skole te sluit indien die departement van basiese onderwys dit nie doen nie. Die persoon op die video waarsku dat daar twee dae oor is, maar enige kind wat Maandag in skooluniform verskyn, doen dit volgens hom op eie risiko. Die VF Plus beskou hierdie dreigemente as hoogs onverantwoordelik.
Die gespartel om iets belangrik kwyt te raak, beteken dat die EFF tans bont praat. Aan die een kant moet skole volgens die party sluit om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Aan die ander kant het die party se leier, Julius Malema, tydens 'n Jeugdag-toespraak gesê dat hy hom voortaan aan geen inperking sal steur nie.
Malema se argument is dat die jeug van Suid-Afrika werk nodig het en dat inperkings nie werk skep nie. Daarom moet die regering volgens hom dadelik die hele bevolking inent en alle inperkings is sinneloos. Hy is dus selfs bereid om tronkstraf uit te dien vir sy weiering om inperkings na te kom.
Dit is duidelik dat die EFF onsamehangend raak in sy ywer om populistiese uitsprake te maak. Die vraag is hoe dit sin maak om skole te sluit wanneer ander inperkings waardeloos is. Wat die party wel regkry, is om gemoedere op te jaag.
Ouers is van nature beskermend teenoor hul kinders en EFF-lede wat skoolkinders bedreig, mag hulle teen 'n figuurlike klipmuur vasloop.
Die VF Plus doen 'n beroep op wetstoepassers om Maandag op 'n gereedheidsgrondslag te wees. Hoewel daar 'n algemene gevoel is dat die EFF nie op hierdie punt ernstig geneem kan word nie, is die optrede van enkele lede onvoorspelbaar. Skole en ouers moet dus ook Maandag op hul hoede wees.
Indien EFF-optrede tot konfrontasie lei, sal die party met sy onverantwoordelike uitsprake die skuld daarvoor moet dra.