Die gebeure waar veertien soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Demokratiese Republiek die Kongo gesneuwel het, is baie ernstig en daar moet verantwoording en gevolge wees.
Die VF Plus doen daarom ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n geregtelike kommissie van ondersoek in te stel na onder meer ‘n mediaberig waaruit dit blyk dat senior generaals van die SANW belangrike inligting van die president weerhou het aangaande die sending.
Luidens dié berig in Rapport van die bekroonde militêre joernalis Erika Gibson, het sekere generaals daarop aangedring dat die president ingelig word oor die weermag se tekortkominge en onvermoë om met die sending voort te gaan.
Ander senior generaals het hulle glo verhinder om dit te doen. Dit beteken dat daar op hierdie wyse selfs inligting oor ‘n moontlike staatsgreep van die president weerhou kan word.
Die VF Plus het nogtans opregte simpatie met die naasbestaandes van die gesneuwelde soldate, al kan dit die tragiese gebeure nie ongedaan maak nie.
Daar was in die nuwe bedeling twee volledige verdedigingsoorsigte oor die weermag se vermoë – een in 1998 en een in 2015. Die 1998-oorsig het gewys dat Suid-Afrika van die mees gesofistikeerde wapentuig beskikbaar aangekoop het teen miljarde rande.
In die verslag van 2015 is sekere aanbevelings gemaak wat nooit uitgevoer is nie en die gevolg is dat Suid-Afrika se wapens grootliks in onbruik verval het weens ‘n tekort aan geld en onderhoud.
Dit speel ‘n groot rol in Suid-Afrika se deelname aan vredesendings in Afrika. Dit kan gedoen word, maar dan moet die nodige wapentuig daarvoor beskikbaar wees, soldate moet deeglike opgelei wees en die nodige logistieke steun moet in plek wees.
Die DRK-tragedie is boonop ‘n herhaling van die Slag van Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in 2013. Vyftien Suid-Afrikaanse soldate het in dié veldslag gesneuwel.
Ná só ‘n voorval is daar altyd ‘n in diepte ondersoek en ontleding om vas te stel presies wat fout gegaan het om ‘n herhaling daarvan te voorkom. Tog het dit twaalf jaar later weer gebeur.
Nou wil dit voorkom of selfs senior generaals al die agteruitgang en onvermoë van die weermag vir die president probeer geheim hou.


