"Die jongste reddingspoging van die SAL is nie die eerste nie en sal gewis nie die laaste wees op die rekening van die belastingbetaler en die armes van die land nie," sê Wouter Wessels, VF Plis-LP.
"Ironies genoeg moes die geld wat nou weer bestee word om die SAL van ondergang te red, juis aangewend word om dienste te lewer vir die mense wat reeds daarvoor betaal het. Nou word dit vermors op die hoeveelste reddingspoging van ‘n wanbestuurde staatsbeheerde entiteit wat reeds buite redding is"
Wesselshet Woensdag tydens 'n parlementêre debat oor die spesiale aanvullings-Wetsontwerp vir redery gesê daar is niks waaraan die ANC regering geraak het wat nie gered moet word en ‘n sogenaamde omkeerstrategie nodig het nie.
"Die ANC het die land se ekonomie afgebreek tot op ‘n punt waar die werkloosheidsyfer so hoog is dat dit ‘n menseregteskending is.
"Om opnuut geld in die bodemlose SAL-put in te stort, grens aan waansin. Dit is ook onwaar om te beweer dat die redery opsetlik vernieting is as deel van ‘n georkestreerde poging om die redery te privatiseer. Dit is vernietig weens ‘n sosialistiese bestuurstyl en beleid.
"Etiopië se redery is suksesvol omdat dit op ‘n gesonde, kommersiële grondslag bedryf word. Dit wys dat dit wel gedoen kan word.
"Die onbekostigbare reddingspogings van staatsondernemings gebeur ten koste van die land se hulpbehoewendes en dra daartoe by om die land al hoe nader aan die fiskale afgrond te dwing. Dit moet nou stopgesit word. Privatisering van dié ondernemings is die enigste werkbare alternatief vir Suid-Afrika.
"Dit is immoreel om belastingbetalers se geld so te mors met een reddingspoging na ‘n ander terwyl die bestuurslui van die ondernemings hulself verryk met astronomiese salarisse en bonusse.
"Terwyl miljarde rande op hierdie wyse vermors word, kan die staat nie ‘n enkele sent vind om Transnet se pensioenarisse te help wie se fondse op blatante wyse leeggeplunder is nie. Eweneens word niks gedoen om die plattelandse gemeenskap te help om munisipale skulde aan Eskom te help betaal nie.
"Die ANC kan nie langer vertrou word met die land se sake nie en die mense van Suid-Afrika moet saam met die VF Plus staan en terugslaan om die ANC in 2019 by die stembus te stuit," sê Wessels.