"Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) word in die algemeen aanvaar as ‘n sinvolle plan wat – indien dit korrek uitgevoer word – Suid-Afrika vorentoe kan neem. Die realiteit is egter dat die ekonomie krimp, morele verval hoogty vier en misdaad buite beheer is," sê adv Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
Alberts het tydens 'n parlementêre debat oor die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan gesê die ANC het hierdie mooi NOP-droom in ‘n nagmerrie laat verander.
Alberts sê ten spyte van die skepping van die NOP, staan Suid-Afrika voor ‘n afgrond van gemorsstatus en sosiale imploffing. Die realiteit wat die ANC geskep het, is 'n nagmerrie waarin mense van dag tot dag leef.
"Hoewel daar breë konsensus bestaan dat die NOP die land op die regte pad kan neem – alhoewel nie perfek nie – word die dokument self in legitieme omstredenheid gehul. Die regering gebruik slegs die NOP wanneer dit hom pas, maar gryp verder na ‘n velerlei ander geskrifte, wat die NOP weerspreek, om sy beleid te probeer regverdig.
"Een hiervan is die ANC se Vryheidsmanifes wat geen regstatus het nie, die department van handel en nywerheid se aksieplan vir nywerheidsbeleid, die planne van die ekonomiese ontwikkelingsdepartement, en vele meer.
"Daar is soveel planne dat ‘n mens nie weet waar beleidsekerheid en rasionaliteit vandaan gaan kom nie.
"Om die kroon te span, word die besluite op die ANC se kongres nou as die hoogste gesag geag met die gekke-beleid van onteiening sonder vergoeding wat op die land afgedwing word sonder dat dit in die NOP voorkom.
"Daar moet nou aanvaar word dat die NOP dood is en dat die ANC beleid opmaak op taktiese vlak bloot ter wille van oorlewing en nie in belang van die land nie.
"Voortaan sal die land toenemend die reaktiewe beleidsvorming van ‘n party sien wat sy onvermydelike ondergang probeer vertraag. Die bewyse hiervan is volop:
• 'n Bankrot openbare diens.
• Bankrot staatsbeheerde ondernemings.
• Populistiese beleid wat mag konsentreer en markwaarde vernietig.
"Die ANC wil hê almal moet glo dat die gras groener is aan sy kant. Dit herinner aan 'n geliefde karakter in die Afrikaanse televisie-reeks "Koöperasie Stories", die ou heer Genis, Hy het die volgende Afrikaanse gesegde gehad: “Die gras is slegs groener aan die ander kant omdat daar soveel bemesting is”.