Meer as drie jaar nadat die VF Plus Sanral die eerste keer aangevat het oor sy etol-meetinstrumente wat nie gesertifiseer is soos vereis word deur die wet (Regsmetrologiewet 9 van 2014) nie, het die VF Plus vandag bevestiging gekry dat dit steeds nie gedoen is nie.
‘n Verteenwoordiger van die Nasionale Reguleerder oor Verpligte Spesifikasies (NRVS) het in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid op ‘n vraag van die VF Plus bevestig dat daar steeds geen standaarde vir die etol-stelsel bestaan nie en dat dit nog ontwikkel moet word.
"Die antwoord is verstommend aangesien dit beteken dat die e-tolstselsel tegnies nie verantwoordbaar is in terme van die Regsmetrologiewet nie," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder vir Vervoer.
"Selfs meer verstommend is die feit dat die erkenning jaar na jaar in die parlement gedoen word en dat Sanral hom oënskynlik net nie aan die voorskrifte van die wet steur soos daar van die gewone publiek verwag word nie.
"Die VF Plus beskou hierdie optrede van Sanral as ‘n doelbewuste en kwaadwillige minagting van die wet.
"Sanral kan in die eerste plek nie rekenings uitreik wat op ‘n onwettige wyse bereken is nie en kan daarom ook nie bewys dat enige rekening wat deur hom uitgereik is, wel korrek is en as bewysmateriaal in ‘n hof kan dien nie.
"Die tyd het nou aangebreek om die e-tolstelsel finaal af te skaf," sê Alberts.