Erfenisdag (Sondag 24 September) is daar om ook die erfenis van die Afrikaner te herdenk. Die Afrikaner het ‘n ryke erfenis en het Suid-Afrika uitgebou as een van die welvarendste lande in Afrika, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die bedenklike poging van die ANC-regering en ander politieke leiers om die geskiedenis en erfenis van die Afrikaner te demoniseer, moet die Afrikaner nie intimideer nie, maar moet hy sy kop optel aangesien hy ook met trots kan praat oor sy verlede.
“Erkenning moet gegee word aan alle kulture in Suid-Afrika, want slegs deur die erkenning van ons verskille en ons kulture, en wedersydse respek vir daardie verskille, kan ons ‘n vooruitstrewende land bou. Die Afrikaner was nog altyd bereid om te bou aan ‘n beter toekoms vir almal.
“Indien die ANC-regering ernstig is dat hy nasionale kohesie wil bevorder, moet hy ophou om die verlede en die geskiedenis van die Afrikaner net sleg te maak.
“Erkenning moet gegee word aan die groot bydrae wat die Afrikaner gelewer het en steeds lewer in die belang van al Suid-Afrika se inwoners. Slegs dan sal daar ware samewerking en vooruitgang in die land kan wees,” sê dr. Groenewald.