Die VF Plus het tudens die nasionale raad van provinsies se besoek aan Emfuleni, ’n sterk bewoorde voorlegging gelewer en al die knelpunte aan die ondersoekspan na omstandighede in die munisiplaiteit voorgelê.
"‘n Totale gebrek aan ‘n politieke wil om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) van ondergang te red, is die direkte oorsaak van inwoners se drasties verswakkende lewensgehalte," sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.
Senekal sê die hoofrede hoekom die streek totaal gestroop is van alle dienslewering en ‘n funksionerende infrastruktuur is die onvermoë van raadslede om as ’n span saam te werk. Dit word afgewentel na die administratiewe strukture waar geen senior bestuurspan in beheer is nie.
Die munisipale bestuurder en hoof finansiële bestuurder wat deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) in Emfuleni geplaas is, se termyne verstryk ook binnekort.
"Die munisipaliteit het nie eens genoeg geld om ’n pap band aan ’n munisipale voertuig te vervang nie"
Feitlik al die senior poste is ook vakant.
Senekal sê Emfuleni se raad neig ook daarna om politieke aanstellings te doen wat veroorsaak dat toepaslike kwalifikasies en ervaring selde die oorweging van sleutelposisie-aanstellings is.
"Nog ’n knelpunt is die hoë aantal vakante poste in die raad. Die munisipaliteit beweer daar is 50% vakante poste, maar dié aanname is misleidend. Die gebrek aan produktiwiteit, doeltreffendheid, toesig en mense sonder die regte vaardighede in poste, is van die grootste oorsake van wanadministrasie. Die gevolg is die aanstelling van kontrakteurs om die werk te doen.
"Hoewel die Vaal-area ‘n afwaartse ekonomiese groei beleef en werkloosheid hoog is, is die inkomste wat gegenereer word, tesame met die toelaes wat ontvang word, voldoende om ‘n redelike diens aan inwoners te lewer. Die werklike oorsaak vir die afwesige diens is swak bestuur en die plundering van hulpbronne.
" ’n Voorbeeld hiervan is hulpbehoewende huishoudings wat dienste ver bo die munisipale beleid en riglyne ontvang. Met dié beleid het die munisipaliteit ‘n verlies van ‘n miljard rand gelei.
"Vrugtelose besteding van miljoene rande soos in ondersoeke gevind is, kon aangewend word om agterstallige Eskom- en Rand Water-rekeninge te betaal. Die waarnemende hoof-finansiële bestuurder het onlangs ’n ondersoek na veertien van die munisipaliteit se 360 kontrakte laat doen.
"Onreëlmatige uitgawes van bykans R1 miljard is geïdentifiseer. Sulke wanadministrasie veroorsaak dat die munisipaliteit nie eens genoeg geld het om ’n pap band aan ’n munisipale voertuig te vervang nie. Tog is dit maklik vir die stadsraad, om wanneer ’n nuwe burgemeester aangestel word, ’n nuwe ampsmotor aan te skaf.
"Die VF Plus het die ingryping van die Gauteng-provinsie verwelkom, maar die situasie het nog nie verbeter nie.
"Inteendeel, die situasie het in so ’n mate agteruitgegaan dat basiese dienste soos water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteit nie behoorlik gelewer word nie. Met riool wat in woonbuurte na die Vaalrivier vloei, het die kwessie reeds in ‘n nasionale krisis ontaard.
"Die VF Plus versoek dus die nasionale raad van provinsies om die situasie in Emfuleni dringend te ondersoek en ’n werkbare oplossing te vind," sê Senekal.