Die planne wat president Cyril Ramaphosa nou aangekondig het om ekonomiese groei in Suid-Afrika te stimuleer, klink na blote lippediens aan kiesers en beleggers wat bekommerd en ontevrede is oor die kreeftegang van die land se ekonomie.
"So lank as wat die ANC-regering voortgaan om met skadelike beleid soos onteiening sonder vergoeding beleggers af te skrik, en solank die staatsdiens se doeltreffende funksionering lamgelê word met Regstellende Aksie (RA), sal geen ekonomiese plan groei bewerkstellig nie, al klink dit hoe goed op papier," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Groenewald sê die president se planne sluit in die stigting van ekonomiese forums om groei te stimuleer, die herprioritisering van openbare besteding om werkskepping aan te help, die stigting van ‘n infrastruktuur-fonds en dringende optrede om probleme in die onderwys en gesondheidsdiens te behandel.
"Hy maak ook melding van die verbetering van munisipale infrastruktuur en die noodsaaklikheid daarvan om beleggers in veral mynbou te lok.
"Die VF Plus se standpunt is dat die herprioritisering van openbare besteding om werkskepping aan te help, nie groter skuld en lenings tot gevolg moet hê nie. Die regering moet binne sy begroting bly.
"Hy moet nie ‘n werkskepper wees nie, maar sy taak is om deur sinvolle beleid en wetgewing ‘n omgewing te skep wat bevorderlik is vir ekonomiese groei. Dit sal beleggers lok en lei tot werkskepping.
"Net die teenoorgestelde gebeur egter en beleidsbesluite soos onteiening sonder vergoeding rig enorme skade aan wat nie deur ‘n paar welklinkende voorstelle ongedaan gemaak sal word nie.
"President Ramaphosa spel ook nie uit presies hoe hy die planne in werking wil stel en uitvoer nie. Soos by munisipaliteite gesien word, is geld vir instandhouding en opgradering wel beskikbaar, maar ‘n kombinasie van onbevoegdheid en korrupsie maak die uitvoering van enige plan haas onmoontlik.
"Dit sou die president loon om eerder planne aan te kondig om produktiwiteit en beleggersvertroue in die land te verbeter deur weg te doen met RA en skadelike arbeidswetgewing. Dan sal ekonomiese groei vanself volg," sê Groenewald.