fbpx
Vryheidsfront Plus

Veelparty-koalisie in Johannesburg skep geleenthede vir ekonomiese ontwikkeling

Die Johannesburgse metro is vasbeslote om die voorloper te wees in ekonomiese vooruitgang en as deel van die plan sal 14 geleentheidsentrums oor die volgende drie jaar in die stad opgerig word.

Franco de Lange, VF Plus-raadslid en voorsitter van die ekonomiese-ontwikkelingskomitee, sê egter die VF Plus sal verseker dat die projekte suksesvol uitgevoer word.  

De Lange sê drie geleentheidsentrums het reeds die afgelope jaar suksesvol afgeskop in Marshallstraat Johannesburg, Roodepoort-burgersentrum en die Diepsloot-noord Sosialesentrum. Met die daarstelling van die nuwe sentrums sal voornemende entrepreneurs die geleentheid kry om hul klein- en medium-besighede  te ontwikkel.

Private en regeringsorganisasies is ook by die projek betrokke. Absa-bank en die departement van handel en nywerheid sal help om klein besighede te befonds.

SARS en CIPC (Maatskappye en Intellektuele Eiendomsregistrasiekantoor) sal die betrokke ondernemings help registreer terwyl ander organisasies hulp sal verleen met opleiding en basiese rekenaarvaardighede. Met hul betrokkenheid sal die stad help om bestaande en toekomstige entrepreneurs se behoeftes te ondersteun.

Johannesburg het sewe substreke en elke streek sal teen 2021 twee entrepreneur-geleentheidsentrums huisves.

‘n Program is ook begin om jong ambagsmanne en -vroue by die sentrums op te lei. Hulle sal ook ‘n diensleweringsonderrig- en opleidingsgesag-akkreditasie ontvang.

"Die VF Plus ondersteun die nuwe model van geleentheidsentrums na die ANC-regering se SMME (Small, Medium and Micro Enterprises)-sentrums nie die verwagte resultate opgelewer het nie.

"Hierdie geleentheidsentrums is nog ‘n bewys van hoe ‘n veelparty-koalisieregering daarin kan slaag om die ekonomie en werkskepping te stimuleer.

"Vooruitgang kan slegs plaasvind wanneer die regering en die privaatsektor hande vat om so die ekonomie te dryf tot voordeel van sy burgers," sê De Lange.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.