Die DA se nuut-aangewese burgemeester vir Kaapstad, Dan Plato, moet wys hy kan verdeelde DA-raadslede saamsnoer in belang van al die inwoners van Kaapstad.
Hy sal ook moet wys hy kan uitstyg bo sy vertoning as LUR vir gemeenskapsveiligheid wat nie oortuig het in die stryd teen misdaad in die stad en veral op die Kaapse Vlakte nie.
Dit sal Plato loon om in belang van die publiek eerlik met homself te wees oor die verdeeldheid in DA-geledere en groot ontevredenheid van die publiek oor ‘n verskeidenheid sake soos buitensporige water- en kragtariewe.
Ander sake soos die uitbuiting van getroue belastingbetalers en selfs die algemene kwynende netheid van die stad gaan nie ongesiens by inwoners verby nie.
Selfs die onsekerheid wat geskep is met die moontlikheid dat die DA-leier Mmusi Maimane homself beskikbaar sou stel as premierskandidaat vir die Wes-Kaap, het bygedra tot die kollektiewe openbare argwaan in die stad en provinsie wat Plato sal moet bylê.
Die VF Plus onderneem om alles in sy vermoë te doen om in die raad ‘n positiewe bydrae te lewer in die belang van al Kaapstad se inwoners.
Die party sal egter sy plig as opposisie nougeset uitvoer om die DA en sy burgemeester verantwoordbaar te hou om te alle tye seker te maak die inwoners en getroue belastingbetalers van die stad word eerste gestel.
Kontaknommer: 072 195 6581