Die VF Plus in die Tshwane-metroraad het verskeie klagte oor die eiendomswaardasierol van die Tshwane-metro ontvang wat dui op groot ongerymdhede.
Sommige inwoners se eiendomwaardasies het met tot 400% verhoog wat, gegewe die huidige ekonomiese omstandighede, totaal buitensporig is. Dié verhoogde waardasies het daartoe gelei dat eiendomsbelasting dienooreenkomstig verhoog is.
Daar is reeds verskeie hofsake hangende wat daarop gemik is om die goedgekeurde begroting van die administrateurs van die Tshwane-metroraad ongeldig te laat verklaar. Dit sluit die geldigheid van die munisipale-waardasierol in. Regsaksie neem egter tyd en intussen wil inwoners beswaar aanteken teen die buitensporige waardasies.
Formele besware het reeds op 26 Junie 2020 gesluit, maar inwoners wie se eiendomswaardasies moontlik verkeerd bereken is, het steeds 'n remedie tot hul beskikking.
Die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting dui aan dat 'n Artikel 78-navraag ingedien kan word. Die metro sal dan verplig wees om ondersoek daarna in te stel en met die aanvullende waardasierol kan daar dan formeel beswaar aangeteken word.
Indien die proses toon dat die waardasie verkeerd was, kan die eiendomsbelasting terugwerkend reggestel word, maar in die geval waar die waardasie wel hoër blyk te wees, sal dit ook terugwerkend verhoog word. Daar sal dan nie ‘n geleentheid vir appèl wees nie.
Die VF Plus wil dit benadruk dat die proses slegs bedoel is vir eiendom wat wesenlik verkeerd gewaardeer is, en/of spesifiek in terme van Artikel 78 van die Wet ingesluit word, wat veranderlikes in ag neem.
Navrae: 072 815 4053