"Die land se misdaadstatistiek vir die eerste drie maande van die jaar wat die minister van polisie, Bheki Cele, vanoggend bekend gemaak het, dra nie veel waarde nie aangesien die probleme met DNS-toetsing in die polisie skuldigbevindings grootliks in die wiele ry en slagoffers faal," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Alhoewel statistiek ’n afname van 8,5% toon in kontakmisdaad soos gewone aanranding en roof, is die skerp toename in moord (8,4%) en poging tot moord (8,7%), kommerwekkend.
"So ook die moord op 24 polisielede in hierdie tydperk. Elf lede is vermoor terwyl hulle aan diens was. Dit is ’n gevaarlike tendens wanneer ’n land se polisiemag self die teiken van misdadigers word en toon ’n minagting teenoor diegene wat die landswette moet toepas.
"Luidens die statistiek het elf mense gesterf in plaasaanvalle. Vier hiervan was boere of plaaseienaars. Die VF Plus doen steeds ’n beroep op die landbougemeenskap om om hul veiligheidsnetwerke op te skerp aangesien die polisie se landelike beveiligingstrategie sukkel om van die grond af te kom.
"Die ongehoorde skerp styging in moord in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal met 21,5% en 16,9% onderskeidelik, is veral kommerwekkend en vereis spesiale aandag.
"Ewe kommerwekkend is die feit dat 1 327 van die 4 976 moorde vanjaar in die slagoffers se eie woning plaasgevind het. Misdade in hierdie verband is die mees gevreesde van alle misdaad aangesien nie eens die veiligheid van mense se eie woonplek hulle veilig kan hou nie."
"Wat verkragting aanbetref, is die polisie besig om slagoffers in meer as een opsig te faal. Alhoewel minister Cele spog met ’n afname van 4% in verkragting, was daar steeds 9 518 verkragtings, en in die meeste gevalle kan die oortreders daarmee wegkom weens die polisie se onvermoë om DNS-toetse te doen. DNS-toetse is van die grootste belang om ’n persoon se skuld met hierdie soort misdaad te bewys.
"Die minister mislei ook die publiek deur te sê daar word vordering gemaak om die agterstand met toetsing uit te wis. Die probleem kan tewens vererger in die afsienbare toekoms weens ‘n regsgeding oor die intellektuele besitreg van die stelsel wat met DNS-toetsing gebruik word.
"Net so kan die afname van 11,1% in veediefstal nie net aan die goeie werk van die polisie toegeskryf word nie, maar grootliks aan die goeie samewerking tussen die polisie en georganiseerde landbou om dié misdaad te bekamp. Dit is nogtans welkome nuus.
"’n Deurlopende doring in die vlees van die polisie bly die hoë voorkoms van gewone en ernstige aanranding en veral die groot rol wat drank daarin speel."
"Luidens die statistiek was daar ’n afname van 9% in alle aanrandingsvoorvalle, maar daar is nogtans meer as 75 000 gevalle in die drie maande aangemeld. In 2 855 van die gevalle het drank ’n rol gespeel en 2 047 het plaasgevind by ’n perseel waar drank verkoop word. Dit plaas ’n groot en onnodige las op die mannekrag van die polisie.
"Wat trio-misdaad aanbetref, was daar ’n toename van 4,9% in motorkapings, rooftogte in woonhuise het met 372 gevalle toegeneem en rooftogte in sake-ondernemings en elders met 2,8%. Kaping van voertuie wat vrag vervoer, het met meer as 10% toegeneem met 354 trokke en koeriervoertuie wat van hul vrag beroof is.
"Die deurlopende toename in hierdie misdaad is tekenend van die land se verswakkende ekonomie en is ’n gevaarlike tendens," sê Groenewald.