Die munisipale rede van die burgemeester van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM), Nhlakanipho Zuma, is net gemik op opportunistiese stemwerwing vir die ANC met die komende plaaslike regeringsverkiesing en fokus glad nie op die wesenlike finansiële probleme en verval van die munisipaliteit nie.
GMM, wat die dorpe Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt bedien, se dienslewering bestaan nie of skiet ver te kort.
Zuma het egter verkies om in sy toespraak te fokus op die onteiening van grond sonder vergoeding vir behuisingsprojekte sonder om te meld waar die fondse vandaan gaan kom om die behuisingsprojekte van die nodige water- en sanitasie-infrastruktuur te voorsien.
Die munisipaliteit het reeds ‘n agterstallige diensterekening van R2 miljard weens die wanbetaling van die gemeenskap en sakeondernemings en die munisipaliteit beskik nie oor die fondse om die dienste met nuwe behuisingsprojekte te verskaf nie.
Die dreigement dat hy in Kinross privaateiendom sonder vergoeding gaan vat om 'n skool te bou en geskiedenis te maak deur grondgrype, is gevaarlik en sal broodnodige potensiële beleggers in die plaaslike ekonomie afskrik.
Zuma het ook verwys na die sogenaamde ekonomiese groei van GMM en vorige ANC-burgemeesters vir hul harde werk bedank. Dis belaglik gesien in die lig van die verval van GMM en die finansiële verknorsing waarin die munisipaliteit verkeer sedert die ANC in beheer is.
‘n Dorp soos Bethal word geteister deur kragonderbrekings en waterprobleme weens die munisipaliteit se wanbetaling van Eskom en Randwater. Geen melding is gemaak hoe die agterstallige R2,7 miljard aan die twee grootmaatverskaffers vereffen gaan word nie.
Die ANC het die eens vooruitstrewende dorpe in die Govan Mbeki-munisipaliteit vernietig. Met die komende plaaslike regeringsverkiesing kan inwoners hierteen opstaan en saam met die VF Plus staan om ‘n sterk boodskap te stuur dat die nie langer geduld sal word nie. Die verval kan gestop word.
Navrae: 082 795 8895 / 076 687 2830