(Begrotingsposdebat in parlement: Arbeid)
Met ‘n reeds krimpende arbeidsmark weens ‘n regering wat die ekonomie oor jare eerder afgebreek as opgebou het, was die bykomende gevolge van die Covid-19-pandemie en die streng inperkings daarvan, vernietigend vir Suid-Afrika se arbeidsomgewing.
Die regering probeer dit nou ontken en die pandemie het die ideale uitkoms gebring om voor te hou as rede vir sy mislukking. Dit kan egter nie ontken word dat die land se arbeidsprobleme lank voor Maart 2020 begin het nie.
Net so het die departement van arbeid se vergoedingsfonds werkers vir 20 jaar in die steek gelaat en daar is rondgeval van een ontoereikende stelsel na ‘n ander.
Met ‘n bespreking van die Wetsontwerp op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes (WVBBS), is al die gebreke in die vergoedingsfonds-stelsel blootgelê, van personeelprobleme tot sy bestuur en beheerstelsels. Daar is gehoor hoe sommige werkers al langer as 20 jaar wag vir hul eise om uitbetaal te word.
Tog ignoreer die departement en ander betrokkenes hierdie probleme en noodkrete van eisers tot nadeel van almal in die totale arbeidsektor. Net so laat die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) sy lede in die steek met die bykomende las van die tydelike noodfonds (Ters) en bewerings van wydverspreide korrupsie om sake te vererger.
Dit is jammer dat die departement se begrotingsinkortings ook ‘n negatiewe impak gaan hê op die werksaamhede van die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA) wat dit steeds regkry om met min hulpbronne onder ‘n enorme werklading te funksioneer. Hoe lank die personeel so kan voortgaan, is ‘n ope vraag.
Tog gee die staat miljarde rande aan staatsondernemings wat jaar na jaar misluk weens hul eie wanbestuur en korrupsie. Elke sent wat in hierdie bodemlose put beland, is tot nadeel van die land se werkers wat dien as bewys dat die regering nie werklik oor hulle besorg is nie.
Die privaatsektor is die grootste werkskepper in die land is. Die staat moet daarom ‘n gunstige omgewing skep, waarin die ekonomie en ondernemings van die land kan floreer om werk te skep en die inkomste-agterstand van arm Suid-Afrikaners uit te wis.
Tog gebeur dit nie en gee die regering eerder die privaatsektor die skuld vir sy eie mislukkings met wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) om die las op die sektor te vererger. Die enigste verloorder is die land se ekonomie en elke mens in die land wat daarvan afhanklik is.
Die regering staar hom blind hierteen en hou steeds vol dat hy al die nodige doen om die arbeidsomgewing te stimuleer. Die waarheid is dat die departement van arbeid nie sy mandaat van werkskepping uitvoer nie en enige verdere begrotingsbesnoeiings sal bloot die land se arbeidsprobleme vererger.
Werkloosheid is die grootste ooit. Die pandemie het bloot die bestaande probleme en gebreke behoorlik blootgelê. Die land het te min oor om langer aan die ANC se verwronge en mislukte ideologie uitgelewer te word.
Daar moet nou gefokus word op werkskepping. Dit is al wat tussen die land en totale ondergang staan. En geen plan, hoe goed ook al, sal slaag met die huidige regering aan bewind nie.