Die VF Plus-koukus in die raad van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) het gister die raadsverrigtinge verlaat en geweier om aan 'n duidelik onwettige verkiesingsproses vir 'n nuwe burgemeester deel te neem.
Hierdie stap volg nadat die VF Plus vroeër die week formeel daarop aangedring het dat 'n spesiale raadsvergadering belê word om te verseker dat die korrekte wetlike voorskrifte vir die verkiesing van 'n nuwe burgemeester gevolg word omdat die vorige burgemeester, Kgotso Khumalo, skynbaar probeer het om self ‘n opvolger aan te stel.
Khumalo het vroeër die week onder 'n wolk van beweerde diefstal en korrupsie van munisipale fondse bedank.
Tydens gister se raadsvergadering het die ANC-raadslede daarop aangedring dat die verkiesing van 'n nuwe burgemeester met die opsteek van hande plaasvind in stede van 'n geheime stemming soos deur die Munisipale Strukturewet voorgeskryf.
Die VF Plus het die speaker, Kgosie Mogoeemang, gewys op die bepalings van die betrokke wetgewing, maar hy het ten spyte daarvan toegelaat dat die raad 'n onwettige stemming hou.
Dit is 'n skandelike vertoon van die ANC se minagting vir die land se wette en 'n duidelike bewys van hoe die ANC homself bo landswette stel om sy belange te bevorder.
Die VF Plus sal nie toelaat dat die ANC voortgaan om deur politieke manipulasie wetgewing te omseil en die geloofwaardigheid van die demokrasie ondermyn nie. Hierdie optrede wys weereens hoe vasberade die ANC en sy ontplooide kaders is om hul plunder-strukture te beskerm.
Die VF Plus sal voortgaan om te weier om aan enige onwettige prosesse deel te neem en dit met hand en tand te beveg.
Hierdie gebeure moet opnuut dien as ‘n wekroep aan alle Suid-Afrikaners om die komende plaaslike regeringsverkiesing te gebruik om op te staan, saam te staan en sterk standpunt in te neem teen die ANC se magsmisbruik wat dreig om die wese van demokrasie in die land te vernietig.
Navrae: 082 415 8628