Die VF Plus is in proses om ‘n aantal klagte voor te berei teen EFF-raadslede van die Tshwane-metroraad nadat hul vandag Tshwane Huis bestorm en personeel rondgeruk het.
Die EFF-raadslede, wat aangestig is deur-ANC raadslede, het die motorbestuurders van burgemeesterskomiteelede verhinder om hul verpligtinge uit te voer en mnr. Jordan Griffin, die personeelhoof van die metro, rondgestamp.
Raadslede en personeel is ook verhinder om die gebou te verlaat.
Die EFF en ANC poog in die proses om die veelparty-koalisie in die Tshwane-metro, waarvan die VF Plus deel is, te destabiliseer ná die bedanking van die uitvoerende burgemeester, mnr. Randall Williams.
Die EFF oortree toenemend die etiese gedragskodes waaraan ‘n geregistreerde politieke party wat by die OVK geregistreer is, moet voldoen.
Die VF Plus konsulteer tans om strafregtelike klagte teen die betrokke lede by die polisie in te dien asook om ‘n ondersoek aan te vra by die Gautengse LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake, Mzi Khumalo.
Ná die EFF se gewelddadige optrede tydens die onlangse staatsrede, waar die verhoog waarop president Cyril Ramaphosa sy toespraak gehou het bestorm is asook die gebeure vandag by Tshwane Huis, lyk dit asof die EFF oor geen politieke kapitaal meer beskik nie anders as om soos ‘n terreurorganisasie op te tree.
Die VF Plus sal toesien dat die uitvoerende gesag en wetstoepassingsagentskappe teen die betrokke raadslede optree en daag die EFF-leierskap uit om amptelik standpunt in te neem teen die gedrag van sy lede.


