Die VF Plus het die 2022/23-begroting van die Drakenstein-plaaslike munisipaliteit getoets aan die party se insette op die konsepbegroting en is teleurgesteld dat die finale begroting min daarvan weerspieël.
Die tariefverhogings wat op 1 Julie intree, neem duidelik nie die verswakte ekonomie in ag nie en oorskry die 2021-inflasiekoers van 4,5% wat die Nasionale Tesourie as riglyn aan munisipaliteite aangedui het vir verhogings.
Munisipaliteite is veronderstel om slegs as agent op te tree vir Eskom en nie om munt te slaan uit kragverkope ten koste van die verbruiker nie.
Dit maak dit des te meer noodsaaklik om alternatiewe kragbronne, soos son- en windenergie, te ondersoek en te ontwikkel om die afhanklikheid aan Eskom te verminder.
Net soos met elektrisiteitsvoorsiening, moet daar ook innoverend gekyk word na watervoorsiening.
Die VF Plus het reeds probeer om die Bergriver Development Corridor-konsep ter tafel te lê om konstante watervloei uit die Bergrivier teweeg te bring. Behalwe vir volhoubare waterverskaffing, hou dit massiewe geleenthede in vir ekonomiese groei, werkskepping en toerisme.
Alhoewel die tarief vir vullisverwydering verhoog, hoop vullis op en verwydering is nie na wense nie weens swak beplanning en bestuur.
Die VF Plus is bekommerd oor die stygende salarisrekening van Drakenstein weens buitensporige salarisverhogings.
Bo en behalwe die normale kerfverhoging van 2,4%, word daar begroot vir ‘n verhoging van 4,9%.
Die albatros om die nek van Drakenstein is die aangaan van onbesonne langtermyn-skuld wat vanaf Desember 2022 sy finansiële tol gaan eis wanneer die eerste terugbetalings gemaak moet word vir die volgende 15 jaar.
Die munisipaliteit is nie bereid om ‘n direkte antwoord te gee oor wat die geleende R1,6 miljard uiteindelik gaan kos aan rente nie.
Alhoewel die VF Plus die pas goedgekeurde implementering van die munisipale hof verwelkom, sal dit slegs suksesvol wees indien die toepaslike munisipale regulasies in plek is en wetstoepassers dit afdwing.
Die VF Plus soek dringend oplossings en doelgerigte planne om die Drakenstein-munisipaliteit vorentoe te neem, maar hierdie begroting gaan dit nie bereik nie.