Die ANC-regering van Limpopo het sy openingsrede baie sorgsaam saamgestel en dit toon duidelike tekens dat dit ’n verkiesingsjaar is en die ANC goue sterretjies met leë beloftes soek.
Buiten die gewone verwysings na die negatiewe impak van kolonialisme en apartheid het die premier, mnr. Stanley Mathabatha, regtig sy bes gedoen om vae hoogtepunte en prestasies uit te lig.
Opmerklik was die premier se weglating van enige betekenisvolle vordering wat gemaak is met betrekking tot die “slim-stede” en sy beloftes van werkskepping.
Alles onder die ANC se bestuur is besig om te misluk.
In 2010 het 80% van gemeenskappe toegang tot skoon water gehad, nou net 69,1%.
Die VF Plus wil by die premier weet of dit ná 30 jaar regverdigbaar is dat pensioenarisse in Limpopo hul Sassa-toelaes moet gebruik om drinkbare water te koop?
Ten spyte van die toekenning van fondse, word gebiede soos die Vhembe-distrik nou al vir etlike jare van hierdie basiese noodsaaklikheid ontneem.
Die aanvanklike begroting hiervoor het van R90 miljoen gestyg tot ‘n verbysterende R4,1 miljard, maar tog is daar geen daadwerklike verbetering aan die situasie nie.
Die menseregtekommissie het bevestig regstappe is aan die gang nadat die VF Plus ’n klag ingedien het.
‘n Kritieke waterkrisis staar die provinsie in die gesig wat onmiddellike aandag verg.
Die regering het inderdaad Hophuise gebou, maar dit is kommerwekkend dat inwoners van hierdie huise nou skuld moet aangaan om hul spoeltoilette na buite te verskuif weens die gebrek aan water om te spoel, wat ‘n wesenlike gesondheidsgevaar inhou.
Padinfrastruktuur en -instandhouding in Limpopo bly ’n groot probleem. Ten spyte daarvan dat Limpopo-boere die voorste produsente van aartappels en ‘n verskeidenheid ander groente is, is dit jammer dat die las van padinstandhouding ook op hul skouers val.
Die paaie wat nog dringend herstel moet word is:
R521 tussen Vivo en Alldays;
R572 tussen Alldays en Maasstroom;
R572 tussen Maasstroom en Swartwater;
R572 tussen Swartwater en Tom Burke;
R561 tussen Marken en Baltimore;
R510 tussen Northam en Koedoeskop en
R573 tussen Marble Hall en Siyabuswa.
Ten spyte van die premier se aanmerkings oor “aansienlike opgradering” en die bou van nuwe mediese geriewe in die provinsie, is die VF Plus bekommerd oor die toestand van bestaande hospitale.
Die party ontvang talle klagtes hieroor.
Een van die klagtes behels dat ‘n hospitaal ‘n selfoonflitslig tydens ‘n mediese prosedure gebruik het en boonop versuim het om enige narkose aan die pasiënt toe te dien.
Die familie kon die gehuil van die pasiënt hoor waar hulle in die ongevalle-area gesit het.
Dit is onmenslike behandeling. Gevolglik moes die pasiënt se familie haar dringend na Gauteng vervoer om haar lewe te red weens erge bloeding.
Hierdie voorval beklemtoon die behoefte aan beter gesondheidsorg in provinsiale hospitale.
Dit is deurslaggewend vir die toekoms van dié provinsie dat die ANC in die komende verkiesing uit die regerende stoel gelig word.
Die tyd stap aan vir die ANC, en die VF Plus glo dat inwoners van Limpopo die regte keuse sal maak om positiewe verandering teweeg te bring.